Baie van Afrika se amptelike kaarte is gefragmenteerd, verouderd of dis moeilik om toegang daartoe te verkry.
Dit lei daartoe dat regerings en sakeondernemings groot besluite neem met onakkurate of onvolledige data wat aanleiding kan gee tot uitdagings in infrastruktuurontwikkeling, asook met beleggings- en institusionele gapings.
Om dié probleem te takel, het Esri, wêreldmarkleier in sagteware en stelsels wat geografiese inligting verskaf en verwerk, Dinsdag aangekondig dat hy oor die volgende vyf jaar saam met die tegnologiereus Microsoft en Space42 gaan werk om die mees omvattende basiskaart van Afrika tot nog toe te skep.
Die drie het 'n memorandum van verstandhouding geteken om saam deur die Map Africa-inisiatief hoogs gedetailleerde data van al 54 Afrikalande in te win om só meer akkurate landkaarte te kan skep.
"Sonder akkurate en opgedateerde kaarte staar aansienlike uitdagings regerings en ander organisasies in die gesig. Dit maak dit moeilik om gewasse te monitor om voedselsekerheid te verseker, vinnig en doeltreffend op natuurrampe te reageer, spesies op te spoor om bewaring te bevorder en kritieke infrastruktuuropgraderings te beplan," sê Esri in 'n verklaring.
Volgens Esri vorm betroubare landkaarte ook deel van die grondslag vir die beskerming van landsburgers, die bevordering van ekonomiese groei, die beskerming van fauna, flora en hul habitatte, die instandhouding van 'n land se paaie en nutsdienste, en om veerkragtigheid te midde van die toenemende invloed van klimaatsverandering te ontwikkel.
"Ongelukkig het baie Afrikalande nie voldoende landkaarte nie. Daarom lei Esri die nuwe Map Africa-inisiatief om gedetailleerde en gesaghebbende kaarte vir elke land op die vasteland te skep," lui die verklaring.

Space42, 'n kunsmatige intelligensie (KI)- en ruimtetegnologiemaatskappy in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE), sal aan die projek satellietdata verskaf en ook geldinsamelingspogings en projekbestuur lei.
Hierteenoor sal Esri aan die produksiekant aan die stuur van sake wees waar die kaarte geskep sal word met behulp van die maatskappy se toepaslike hulpbronne. Esri sal ook streeksentrums ondersteun waar plaaslike spanne opgelei sal word om die projek op lang termyn in stand te hou.
Laastens sal Microsoft veilige wolkinfrastruktuur en KI-raamwerke deur sy Azure-platform verskaf wat die span in staat sal stel om die data te berg, te verwerk, en oor en weer te deel.
Die data van die Map Africa-inisiatief sal uiteindelik aan nasionale regerings gelisensieer word en hulle sal gratis toegang tot die kaarte geniet, lui die verklaring.
Die data sal uiteindelik in G42- en Microsoft-bestuurde datasentrums oor Afrika heen gehuisves word.
- karla.vandermerwe@media24.com
• Karla van der Merwe is 'n Netwerk24-beursjoernalis.





















