Ervin Tu, wat byna vier jaar lank Prosus se beleggingshoof was en selfs sowat nege maande waarnemende uitvoerende hoof, verlaat die groep.
Prosus, sustermaatskappy van Naspers, verskaf geen inligting oor waarheen hy gaan nie. Hy sal wel nog as adviseur vir die groep werk.
Tu het as uitvoerende hoof waargeneem nadat Bob van Dijk ná byna 10 jaar skielik in September 2023 bedank het. Hy was ook president van die groep.
Fabricio Bloisi, voorheen uitvoerende hoof van die Prosus-filiaal iFood, het in Julie 2024 die leisels oorgeneem, waarna Tu weer sy pos as beleggingshoof ingeneem het.
Tu is sedert Augustus 2021 by Prosus. Hy het die groep se aandeelterugkoopskema in Junie 2022 bekend gestel en het ook gehelp om die kruiseienaarskap tussen Naspers en Prosus te verminder.
Luidens 'n verklaring wat die groep uitgereik het, het dit "gehelp om die trajek van Prosus te transformeer deur 'n baie sterker fondasie te skep waarop gebou kan word".
Luidens die verklaring is Prosus se visie en strategie onder leiding van Bloisi besig om heelwat te verander.
"Die groep verskuif sy fokus om 'n leefstyl-e-handelonderneming te word, aangedryf deur 'n sterk streek-ekostelsel van plaaslike tegnologiekampioene. Beleggings sal aanhou om 'n groot rol te speel om die ekostelsel te bou, sowel wat betref groeigeleenthede in ons kernstreke - Europa, Latyns-Amerika en Indië - as die evolusie van Prosus Ventures om die innovasie-arm van Prosus te word."
Bloisi loof Tu vir sy bydrae "tot ons mense, strategie en kapitaaltoewysing. Ek is baie dankbaar vir sy raad en ondersteuning en is baie ingenome dat Ervin 'n goeie vriend van die Prosus- en Naspers-span sal bly en sal aanhou om vir die groep raad te gee."
Tu sê hy het sy tyd by die groep baie geniet en het bereik wat hy wou bereik het. Die groep is "in goeie hande".
Tu was voorheen besturende vennoot van die SoftBank Vision Fund, 'n waagkapitaalfonds wat in onder meer Uber en ByteDance, eienaar van TikTok, belê het; hoof van verkrygings en samesmeltings en korporatiewe finansiering by SoftBank, 'n Japanse firma wat in tegnologie belê; en 'n besturende direkteur by die beleggingsreus Goldman Sachs, met 'n fokus op samesmeltings en verkrygings.
Benewens Van Dijk en nou Tu het Basil Sgourdos, wat meer as 10 jaar lank die groep se finansiële hoof was, einde November 2024 uitgetree. Hy is onlangs vervang deur Nico Marais.
Naspers en Prosus maak sy jaarresultate op 23 Junie bekend.
• Netwerk24 is 'n publikasie van Media24, 'n Suid-Afrikaanse filiaal van Naspers.
- hanlie.stadler@24.com




















