Die konstitusionele hof het Maandag ’n aansoek deur Capital Newspapers en Caxton van die hand gewys in ’n voortslepende hofgeding wat handel oor Media24 se herstrukturering in 2024.
Die hoogste hof in die land het die twee maatskappye se aansoek om verlof tot appèl teen ’n uitspraak van die Mededingingsappèlhof verlede jaar, van die hand gewys.
“Die konstitusionele hof het die aansoek om verlof tot appèl aan te teken, asook die aansoek vir verlof om ’n beantwoordende verklaring in te dien, oorweeg. Die hof het tot die gevolgtrekking gekom dat geen saak gemaak is vir verlof om ’n beantwoordende verklaring in te dien nie.
“Die hof het ook tot die gevolgtrekking gekom dat die aansoek om verlof tot appèl met koste van die hand gewys moet word omdat daar geen redelike kans op sukses is nie,” sê die hof.
Raj Lalbahadur, uitvoerende hoof van Media24, sê: “Ons verwelkom die konstitusionele hof se beslissing. Media24 sien daarna uit om ons transformasie van ’n tradisioneel drukgedrewe na ’n ten volle digitale onderneming voort te sit.”
Paul Jenkins, Caxton se voorsitter, het aan Netwerk24 gesê: “Die sluiting deur Media24 van sy koerante was ’n hartseer dag vir die Suid-Afrikaanse publiek. Caxton het die sluiting so ver as moontlik teengestaan. Die konstitusionele hof se besluit is betreurenswaardig, maar daar is geen wenners nie – ons het almal verloor.”
Konstitusionele hof
Capital Newspapers en Caxton het reeds die eerste deel van hul saak in die konstitusionele hof in Augustus verloor. Die konstitusionele hof het egter in Augustus gesê dat die Mededingingsappèlhof nog oor sekere aspekte van die saak moet besluit.
Die Mededingingsappèlhof het daarna, in Desember, ten gunste van Media24 en Novus beslis.
Caxton het toe ’n nuwe aansoek gebring om die Desember-beslissing in die konstitusionele hof te beveg.
Caxton en Capital Newspapers was gekant teen die verkoop van Media24 se gemeenskapskoerante en sy logistieke onderneming On the Dot aan die drukkeryfirma Novus.
Capital Newspapers gee The Witness en vyf ander gemeenskapskoerante in KwaZulu-Natal uit. Die genoteerde Caxton besit 45% van Capital.
Caxton en Capital het aangevoer dat die sluiting van die gedrukte koerante druk geplaas het op die hele medialandskap, tot nadeel van spraak- en mediavryheid.
Dié transaksie het die sluiting van die gedrukte weergawe van Beeld, Rapport, City Press en Daily Sun voorafgegaan.
Beeld het steeds ’n landingsblad op Netwerk24 en Rapport leef ook voort as ’n digitale handelsnaam op dié platform. City Press word Sondae op News24 uitgegee en Daily Sun het sy eie gratis webwerf.
Waaroor het die Mededingingsappèlhof se uitspraak gegaan?
Die Mededingingsappèlhof se uitspraak het gehandel oor die vraag of die Mededingingskommissie se besluit om ’n samesmelting tussen Novus en Media24 se On the Dot-verspreidingsonderneming goed te keur, grondwetlik is of nie.
Caxton en Capital Newspapers wou hê die Mededingingsappèlhof moet beslis dat die kommissie se besluit onwettig, ongeldig en ongrondwetlik is.
Hulle wou ook hê die goedkeuring vir die samesmelting moet tersyde gestel word, of alternatiewelik dat bykomende voorwaardes daaraan gekoppel word. Dit sluit in dat die pryse wat On the Dot uitgewers vir verspreiding vra, en die geografiese gebied waarin hy verspreidingsdienste aanbied, herstel moet word na wat dit was voor einde Oktober 2024.
’n Vorige uitspraak van die Mededingingsappèlhof het reeds die eerste deel van Caxton en Capital Newspapers se aansoek van die hand gewys. Dit was waarin hulle aangevoer het die migrasie van sommige van Media24 se nuuspublikasie-titels na digitale platforms was deel van die samevoeging van Novus en On the Dot.* Netwerk24 is ’n publikasie van Media24.











