Noem dit die regering se weergawe van Takealot.
Proudly SA, 'n lede-organisasie wat plaaslike vervaardiging se belange bevorder, het met Parks Tau se departement van handel, nywerheid en mededinging hande gevat om Shop Proudly SA, 'n e-handelaar, op die been te bring.
Die lokalisering van die Suid-Afrikaanse ekonomie is een van die departement se strategiese doelwitte op lang termyn en die hoop is 'n toegewyde aanlyn platform vir die verhandeling van produkte wat op Suid-Afrikaanse bodem vervaardig word, sal dié doelwit 'n wesenlike hupstoot gee.
Shop Proudly SA, wat aanvanklik eers vanaf 1 Julie bedryf sou word, is reeds in bedryf, met talle produkte in 10 verskillende kategorieë wat beskikbaar is.
Ondernemings kan die aanlyn markplek gebruik om regstreeks aan verbruikers te verkoop.
KMO's sleutel tot groeiende ekonomie
Standard Bank het vroeër vanjaar weer benadruk hoe belangrik 'n gunstige sakeomgewing vir klein- en middelslagondernemings (KMO's) is as 'n manier om wesenlik Suid-Afrika se werkloosheidskrisis te help oplos.
Die land het tans 'n werkloosheidsyfer van bykans 33%.
"Die omarming van tegnologie en digitale transformasie is twee van die kernaandrywers van die ontwikkeling van die KMO-landskap," sê Oscar Siziba, hoof van dekking vir sakebankdienste by Standard Bank.
"Dis ook 'n strategiese verskuiwing wat sakemodelle herdefinieer en mededingendheid verbeter."
Daarom meen Eustace Mashimbye, uitvoerende hoof van Proudly SA, is Shop Proudly SA moontlik 'n deurslaggewende stap om plaaslike entrepreneurskap te stimuleer.
Uitbreiding
Hy is veral ingenome met die aanlyn winkel se potensiaal om KMO's se teenwoordigheid in verskeie markgebiede uit te brei, veral omdat dié ondernemings gereeld sukkel om te groei omdat hulle in die meeste gevalle slegs hul onmiddellike mark bedien.
Shop Proudly SA kan ook KMO's help om minder kapitaal in fisieke winkels te hoef te belê, veral in ag genome dat dié entrepreneurs sukkel om voldoende finansiering te bekom.

Finfind se jongste verslag oor finansiering vir KMO's toon talle ondernemings word steeds van die formele finansiële stelsel uitgesluit omdat hulle nie aan die vereistes vir tradisionele finansiering voldoen nie.
Dis 'n strukturele kwessie wat die kredietburo TransUnion wil help oplos nadat hy verlede week 'n nuwe maatstaf vir kredietgradering, Telco Data Score, bekend gestel het. Die produk maak gebruik van data van selfoonrekeninge om 'n krediettelling vir individue met 'n beperkte kredietgeskiedenis te bereken.
Lewenslyn
Shop Proudly SA hoop hy kan ook daartoe bydra. "Die platform bied 'n lewenslyn aan menige opkomende KMO wat markaandeel verloor het weens 'n stortvloed van invoere, veral in arbeidsintensiewe bedrywe," lui 'n verklaring.
Boonop het Proudly SA en die regering ook die Marktoegangsplatform (Map) bekend gestel, 'n onderneming-tot-onderneming-platform wat grootmaataankopers toegang tot 'n databasis van 2 000 geakkrediteerde plaaslike vervaardigers bied.

Mashimbye sê Map kan maatskappye veral help om hul teikens vir die verkryging van plaaslike produkte te behaal.
Sny van die koek
"Deur al hierdie KMO's op een aanlyn platform te huisves vir verbruikers se aankope en verkrygingsdoeleindes, bied ons aan die KMO's sigbaarheid, gerief aan verbruikers en toegang aan korporatiewe klante."
Worldwide Worx se jongste verslag oor Suid-Afrika se e-handelbedryf toon die land sal teen 2026 meer as R100 miljard se aanlyn kleinhandelverkope genereer.
Tau glo ook die aanlyn platforms sal werkskepping stimuleer en ekonomiese groei aanwakker.
- heinz.schenk@24.com





















