Tegnuus

R673 m. se bedrog op bankrekeninge van Capitec-kliënte gestuit

Buskaartjies op Intercape sal ook nou op Capitec se bank-app gekoop kan word. Dit is van die trekpleisters wat deur finansiële tegnologie moontlik gemaak word om bankkliënte en transaksies te laat groei.
Buskaartjies op Intercape sal ook nou op Capitec se bank-app gekoop kan word. Dit is van die trekpleisters wat deur finansiële tegnologie moontlik gemaak word om bankkliënte en transaksies te laat groei. (Foto: Argief)

Capitec het in die afgelope boekjaar R673 miljoen se onregmatige transaksies op bankkliënte se rekeninge gestuit.

Volgens Graham Lee, nuwe uitvoerende hoof van Capitec, is beduidende vordering gemaak om seker te maak kliënte se geld en hul data is veilig.

Die bank het ’n span van meer as 650 mense wat werk aan die voorkoming van dié transaksies.

Hy sê die ingryping wat met behulp van kunsmatige intelligensie (KI) gedoen word, het ook gehelp om soveel vir kliënte te bespaar.

In ’n aanbieding aan beleggers oor die afgelope boekjaar tot einde Februarie het Lee gewys dat 131 000 pogings van skelms om vals begunstigdes aan bankrekeninge te koppel, geblokkeer is.

Begunstigdes kan nou intyds nagegaan word en ’n kliënt word onmiddellik verwittig indien dit ’n hoë risiko is (sien ’n voorbeeld hiernaas).

In die voorlegging is dié voorbeeld vertoon van hoe kliënte verwittig word wanneer ’n hoë risiko bestaan dat misdadigers agter ’n oorbetaling sit.
In die voorlegging is dié voorbeeld vertoon van hoe kliënte verwittig word wanneer ’n hoë risiko bestaan dat misdadigers agter ’n oorbetaling sit. (Foto: Capitec)

Waarskuwings wat met behulp van KI uitgereik word, het nagenoeg 394 000 betalings gekeer wat as gevolg van swendelary sou plaasvind.

Capitec het ook 64 000 pogings om “muil’’-rekeninge te open, geblokkeer. Dié rekeninge word gebruik wanneer geld oorgeplaas word wat uit iemand se rekening gesteel word.

Krimp in geheel

Lee het nie in ’n onderhoud gesê hoeveel geld kliënte wel weens bedrog verloor het nie.

Hy sê die inligting word aan die Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) verskaf.

“Waarop ons wel trots is, is dat dit die een gebied is waar ons beduidende markaandeel verloor.”

Hy sê digitale bedrog by Capitec het in geheel met 7% gedaal en meen dit moet gesien word in die konteks van transaksies wat met 25% gestyg het.

Banke belê sterk in sekuriteit en bedrogvoorkoming om skelms te uitoorlê wat soos moderne seerowers op die see van data bedrywig is.

Capitec se besteding aan IT (salarisse ingesluit) het in die jaar met 18% tot R4,1 miljard gestyg.

Verbruikersopvoeding is ’n belangrike deel van die voorkoming omdat die swendelaars en kuberskelms se metodes ál meer gesofistikeerd en oortuigend raak.

“Dit is ’n voortdurende stryd en ons sal nooit ophou veg om kliënte teen almal, hulself inkluis, te beskerm nie.”

– nellie.brand@24.com