Ingryping in die toename in advertensies wat dobbelary en weddenskappe bevorder, sowel as die regulering van aanlyn dobbelary is op pad.
Parks Tau, minister van handel, nywerheid en mededinging, het Woensdag dié versekering in vraetyd in die Nasionale Vergadering (NV) gegee.
Hy het gereageer op 'n vraag deur Makashule Gana, Rise Mzani-LP, oor of die toename in advertensies vir weddenskappe en dobbelary aan die voorskrifte van die Nasionale Dobbelwet voldoen.
Hy wou ook weet of die gebrek aan vergaderings van die Nasionale Dobbelbeleidsraad sedert 2018 bygedra het tot die krisis met dobbelary in die land en die gebrek aan aanspreeklikheid in dié sektor.
Hersiening
Tau het gesê die Nasionale Dobbelraad het 'n hersiening van onlangse dobbelary en weddenskap-advertensieveldtogte onderneem. Onder die bevindings was dat 'n paar van die advertensies en bemarkingspraktyke van verskeie dobbelary-operateurs nie ten volle aan wetgewing en die reguleringsraamwerk voldoen nie.
Dit is veral die geval wat boodskappe vir verantwoordelike dobbelary betref en die beskerming van minderjariges.
"Sommige van die kwessies wat geïdentifiseer is, hou verband met die onvoldoende vertoon van waarskuwings oor verantwoordelike dobbelary deur sowel aanlyn platforms as openbare advertensies."
Die wet verbied ook die plaas van dobbelary-advertensies in media wat primêr gemik is op mense jonger as 18 jaar, het Tau gesê.
"Die raad het gevind dat advertensies gereeld uitgesaai word gedurende gesinskyktyd, ook gewilde programme soos MasterChef en MasterChef Junior."
Geborgde inhoud
Die regulasies fokus ook op geteikende en aanlyn advertensies op stromingsdienste.
Advertensies vir dobbelary sonder vrywaringskennisgewings is opgemerk op webwerwe vir aanlyn radiostasies en platforms soos YouTube.
"Daar is ook die kwessie van gesinsvriendelike programme wat deur groot beroepswedders geborg word wat lei tot die verhoogde sigbaarheid van advertensies vir dobbelary gedurende die vertoning van televisie-inhoud wat deur minderjariges gekyk word."
Die Nasionale Dobbelraad het met provinsiale dobbelrade geskakel oor die genoemde oortredings en is voornemens om die Nasionale Dobbelbeleidsraad op die volgende vergadering oor die kwessie van raad te dien vir 'n resolusie in die verband.
Tau sê hy het die departement opdrag gegee om die Nasionale Dobbelbeleidsraad sonder verwyl saam te roep sodat daar 'n gekoördineerde evaluering van al die uitdagings met dobbelary landwyd is.
Tau het gesê die doelwit is om te verseker dat aanlyn dobbelary gereguleer word.
"Verskillende provinsies het verskillende benaderings gehad. In sekere gevalle het laksheid deur provinsiale dobbelrade aanlyn dobbelary bevorder, en ons sal ingryp in daardie opsig."
Advertensies
Tau het ook kommer uitgespreek oor die toename in advertensies vir dobbelary in openbare ruimtes en op plekke wat vir kinders toeganklik is.
Hy het gesê twee dinge moet gebeur wat moet deel vorm van die besprekings in die beleidsraad. "Die eerste is die strenger toepassing van bestaande regulasies, waarvan baie binne die bestek van provinsiale dobbelrade val.
"Tweedens is die verbetering van die reguleringsraamwerk. Ons sal die regulasies hersien in ooreenstemming met die Dobbelraad se studie waarin gapings geïdentifiseer is."
Tau het erken dat die Nasionale Dobbelbeleidsraad vir 'n lang tyd nie vergader het nie. "Dit is 'n weerspieëling van die uitdagings. 'n Deel daarvan is dat die raad vir 'n lang tyd onder administrasie was. Ons het nou met die proses begin om 'n direksie en 'n uitvoerende hoof aan te stel sodat ons dit vanuit 'n bestuursoogpunt kan stabiliseer."
- philda.essop@24.com





















