Sonder 'n kapitaalinspuiting of die verkleining van sy mandaat kan die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) ineenstort.
Dié waarskuwing deur die parlementêre staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) volg op die SAUK se voorlegging wat hy dié week oor sy finansiële verslae en oudituitkomste vir die 2024-boekjaar aan Skoor gelewer het.
Die entiteit het 'n ongekwalifiseerde ouditmening met wesenlike bevindinge vir die boekjaar tot einde Februarie 2024 ontvang.
Songezo Zibi, voorsitter van Skoor, het ná afloop van die komiteesitting in 'n verklaring gesê die wisselvallige finansiële posisie van die SAUK wat sy "volhoubaarheid op mediumtermyn bedreig, is 'n bron van diepe kommer".
Langtermyn-posisie
Die komitee bly bekommerd oor die langtermyn- finansiële posisie van die SAUK omdat sy inkomste onvoldoende is om sy mandaat te ondersteun. Dit dwing die entiteit om geld wat vir bedryfsuitgawes bedoel is, vir ander kritieke doelwitte te gebruik.
"Nóg 'n bekommernis is dat die SAUK nie genoegsame vars programme en inhoud kan vervaardig of aankoop om mee te ding om advertensies en ander verwante inkomste nie. Dit kan ook nie nuwe tegnologie installeer en aankoop om sy mandaat in 'n veranderende, gedigitaliseerde medialandskap na te kom nie.
"Die entiteit sukkel ook om talent te lok en te behou of om die demoralisering van personeel af te weer wat etlike jare nie 'n salarisverhoging ontvang het nie. Hoewel die korporasie hom daartoe verbind het om salarisse te hersien, sal verhogings waarskynlik matig en onmededingend wees."
Inkomste
Volgens Zibi is dit verder kommerwekkend dat die SAUK voortgaan om staat te maak op dalende TV-lisensiegelde en regeringstoewysings om 55% van sy mandaat te finansier. Inkomste uit TV-lisensies het oor die afgelope drie jaar bestendig vanaf R815 miljoen in 2022 gedaal tot R741 miljoen in 2023 en R687 miljoen in 2024, terwyl uitgawes heelwat gestyg het.
Die entiteit word op mediumtermyn deur 'n finansieringsgaping van R7,03 miljard in die gesig gestaar.
Volgens Zibi is daar tans geen plan om die SAUK te voorsien van óf 'n waarborg ten einde 'n banklening te bekom óf 'n kapitaalinspuiting om aan sy mandaat te voldoen nie.
"Wanneer die SAUK nie in staat is om akkurate, geloofwaardige inligting aan die publiek te verskaf nie, word die land kwesbaar vir waninligting en misinformasie (disinformation and misinformation).
"Suid-Afrika het twee keuses: Verskaf óf ondersteuning vir 'n kapitaalinspuiting aan die SAUK óf verklein sy mandaat. Die versuim om dit te doen, sal uiteindelik die instelling laat ineenstort ondanks merkbare verbeteringe in hoe dit bestuur word," lui Zibi se verklaring.
- philda.essop@24.com





















