Die staatsinligtingstegnologie-agentskap (Sita) het nie eens die helfte van die teikens behaal wat gestel is nie.
Dit blyk uit die jaarverslag van Sita wat vandeesweek bekend gemaak is.

Sita het slegs 42,86%, oftewel ses van sy 14 teikens, voltooi.
Gopal Reddy, besturende direkteur van Sita, sê in die verslag dis weens vertragings in projekte, personeeltekorte en ondoeltreffendhede met verkryging.
“Ons kapasiteit was beperk weens ongevulde poste wat op 57% te staan gekom het en ’n tekort aan kritieke inligting-en-kommunikasietegnologie (IKT)-vaardighede,” sê hy.
“Talentbehoud het ’n uitdaging gebly, wat ons aangespoor het om innoverende talentbestuurstrategieë in werking te stel.”
Van die 759 poste wat vir die jaar beskikbaar gestel is, bly 435 vakant.
Sita het ook ’n onderbesteding van R620 miljoen aan kapitaaluitgawes aangemeld, met slegs sowat R380,9 miljoen van die R1 miljard-toewysing aan verkrygings weens vertragings.
Tog is daar sekere programme waar die begrote geld bykans heeltemal bestee is sonder dat die teiken bereik is.
Die denkleierskap- en dienslewering-program het geen teikens behaal nie, maar het 99% van die begroting bestee.
Een van die teikens was die 100%-inwerkingstelling van fase twee om die hofstelsel aanlyn te bring, wat glad nie bereik is nie. Sita het dit wel reggekry om die stelsel te stabiliseer, wat die bekendstelling daarvan in 13 howe moontlik gemaak het.
Verder wou hy ’n tevredenheidsvlak van kliënte van 60% gehad het en het 48% bereik.
Die digitale-infrastruktuur-program het 40% van sy teikens bereik en 87% van sy begroting bestee.
Een van die doelwitte was dat 100% van nasionale en provinsiale departemente voorsien word van bewusmakingsveldtogte oor veiligheid van inligting. 80,25% van die teiken is bereik.
Sita het wel sterk klem gelê op die versterking van die digitale veerkragtigheid van regeringstelsels en het 98% van nasionale en provinsiale departemente se assesserings vir inligtingveiligheidsbekwaamheid voltooi.
Die finansiële-volhoubaarheid-program het wel twee van sy vier teikens behaal, terwyl vaardighede en kapasiteitsontwikkeling, asook aankope en bedryfstransformasie, 100% van hul teikens behaal het.
Onreëlmatighede
Die verslag noem ook die ondersoeke na onreëlmatige uitgawes by Sita.
Die ouditeur-generaal het kwessies soos vooruitbetaling vir ongelewerde dienste, foute met prosessering en probleme met kontrakbestuur uitgelig.
Een van die ondersoeke is oor ’n saak waar Sita vir 31 898 lisensies betaal het wat nie gebruik is nie. Dit het tot ’n “wesenlike finansiële verlies” vir Sita bygedra.
Die ouditeur-generaal het die saak na die Spesiale Ondersoekeenheid verwys en ’n aankondiging is op 16 Mei in die Staatskoerant gepubliseer vir die ondersoek om voort te gaan.







