TakealotMore en beter aanbiedinge het binne 'n jaar 'n groot aandrywer van die Takealot-groep se inkomste geword.
Die groep, wat die e-handelplatform Takealot.com en die kosafleweraar Mr D besit, het sy inkomste in rand in die boekjaar tot einde Maart met 20% verhoog. In dollar - waarin Naspers sy resultate weergee - was dit 15% hoër op $823 miljoen. Die bykomende inkomste was $137 miljoen.
TakealotMore is 'n intekendiens met 'n standaard- en premium-aanbod vir onderskeidelik R39 en R99 per maand. Dit gee mense tot 100 gratis aflewerings per maand, asook gratis kosaflewering deur Mr D (beperk tot drie keer per maand vir standaard en onbeperk vir premium).
Aankope deur TakealotMore-intekenare groei sterk, met mense wat meer gereeld en meer in randwaarde koop.
LEES OOK | Takealot stel intekenmodel bekend: Spaar só, maar lees die fynskrif
Luidens Naspers se resultate het die bruto handelswaarde (GMV) van die produkte wat deur die Takealot-groep afgelewer is, met 13% gegroei teenoor die vorige jaar "ondanks 'n trae begin".
Takealot se bruto winsgrens het met 'n persentasiepunt toegeneem.
Die aangepaste verdienste voor rente en belasting het egter tot -$12 miljoen gedaal, wat die groep aan hoër bemarkingskoste en beleggings in infrastruktuur toeskryf "gemik op voorbereiding vir mededingende druk van nuwe internasionale toetreders".
Amazon.co.za is op 7 Mei 2024 bekend gestel; TakealotMore is net twee dae later, op 9 Mei, aangekondig.
Naspers sê die Takealot-groep is op koers om in die lopende boekjaar, tot einde Maart 2026, winsgewend te wees.
Strategiese inisiatiewe die afgelope jaar sluit in die verkoop van die modewebwerf Superbalist.com en die verkryging van M24 Logistics van Media24. M24 Logistics het pakstore en afleweringsdienste en het op 1 September 2024 deel van Takealot geword.
Takealot.com se inkomste het in rand met 19% gegroei en in dollar met 17% tot $706 miljoen. Die GMV het met 15% toegeneem, grootliks danksy die bekendstelling van nuwe produkkategorieë op die platform.
Mr D se inkomste het in rand met 11% gegroei en in dollar met 8% tot $117 miljoen. Die 81%-styging in die GMV van kruideniersware staan uit.
Kruideniersware wat deur Mr D bestel word, word van Pick n Pay-winkels verkry.
Pick n Pay het in Mei met die bekendstelling van sy jaarresultate bekend gemaak dat sy totale aanlyn verkope met 48,7% opgeskiet het, en op-aanvraagverkope met 60%. Op-aanvraag behels sy app asap! en die kos wat deur Mr D bestel word.
Pick n Pay het die aantal winkels waaruit bestellings geneem kan word tot 600 uitgebrei.
Nico Marais, Naspers se finansiële hoof, het Maandag aan Reuters gesê Takealot het bo verwagting gevaar.
"Ons het in ons markplek-elemente belê om die onderneming te verbeter, en ons het Amazon sien beweeg, waarskynlik nie teen die spoed wat ons oorspronklik verwag het nie, wat tot ons voordeel was. Ons is dus gereed om mededinging af te weer."
Soos ander ondernemings in Naspers se stal omarm Takealot kunsmatige intelligensie om klante beter te verstaan, neigings te identifiseer, bemarking te verpersoonlik en verbruikerservarings te outomatiseer.





















