Die tesourie was een van die honderde slagoffers van die kuberaanval op Microsoft se SharePoint-stelsel.
In 'n verklaring sê die tesourie kwaadwillige sagteware is Dinsdag opgespoor op 'n webwerf waarop provinsiale regerings verslag doen oor die vordering met goedgekeurde infrastruktuurprojekte, die infrastruktuur-verslagdoeningsmodel (IRM). Die bedieners van die IRM is geïsoleer om die omvang van die probleem te bepaal en die tesourie se stelsels te beskerm.
In die lig van mediaberigte oor veiligheidsprobleme op Microsoft se SharePoint-stelsel het die tesourie Microsoft se bystand gevra om enige kwesbaarhede met sy inligting- en kommunikasietegnologie (IKT) te ondersoek.
Die tesourie sê sy bedrywighede word nie ontwrig nie.
Die tesourie se IKT-afdeling verwerk daagliks meer as 200 000 e-posse en 400 000 gebruikersverbindings.
Gemiddeld word 5 800 kuberveiligheidsbedreigings élke dag opgespoor en geblokkeer, wat bewys "hoe verbind die departement daartoe is om 'n veilige digitale omgewing te handhaaf", luidens die tesourie se verklaring.
Die bedreigings sluit in uitvis-pogings, kwaadwillige sagteware en gemorsposaanvalle.
Intussen berig Bloomberg dat die aantal maatskappye en regeringsdepartement wat deur die SharePoint-aanval geraak word, al meer as 400 beloop. Dis gegrond op 'n raming van Eye Security, 'n Nederlandse kuberveiligheidsfirma wat 'n vlaag aanvalle verlede week opgespoor het.
Die meeste slagoffers is in die VSA, gevolg deur Jordanië, Suid-Afrika en Nederland.
Een van die slagoffers was die Amerikaanse agentskap wat die land se kernwapens ontwerp en in stand hou, die National Nuclear Security Administration, en die National Institutes of Health.
Microsoft blameer China, spesifiek die staatsgesteunde groepe kuberkrakers Linen Typhoon and Violet Typhoon. Nog 'n Chinese groep, wat Microsoft Storm-2603 noem, het die kwesbaarhede in SharePoint ook "uitgebuit", volgens Microsoft.
Scott Bessent, Amerikaanse minister van finansies, vergader volgende week in Stockholm, Swede, met Chinese ministers oor die handelspanning tussen die twee lande. Die SharePoint-kuberaanval gaan bespreek word, het hy aan Bloomberg Television gesê.
Microsoft het die kwesbaarhede met SharePoint reggemaak, maar kuberkrakers het dalk reeds toegang tot verskeie bedieners.





















