Netflix se eerste poging om sport regstreeks uit te saai was toe eerder 'n gevries as 'n geveg.
Die boksgeveg waarin die 27-jarige Jake Paul die 58-jarige Mike Tyson maklik met punte geklop het, is as vervelig beskryf. Maar dit wat in die kryt gebeur het, is oorskadu deur kykers se woede op sosiale media oor die gehalte van die regstreekse stroomdiens wêreldwyd.
Duisende kykers het gekla die stroom vries, dit herlaai stadig, die klank verdwyn en hulle kry foutboodskappe.
"As Netflix nie hier die buffering-kwessie oplos nie, sal dit as een van die grootste mislukkings in TV-stroom-geskiedenis bekend staan," het ene Dybala op X geskryf by 'n video van die draaiende wieletjie op sy skerm.
Iemand wat homself "The Older Millennial" noem, het ook so 'n video getwiet. Sy plasing lui: "Netflix behoort hom regtig te skaam. Noudat mense hul diens wil hê, is dit wat ons kry."
Vele ander het sterker taal gebruik om hul frustrasie te kenne te gee.
Die skouspel het gisteroggend omstreeks 03:00 Suid-Afrikaanse tyd begin met voorgevegte.
'n Grafiek op Downdetector, 'n webwerf waar gebruikers probleme met aanlyn dienste kan aanmeld, wys die klagtes van Suid-Afrikaanse gebruikers oor Netflix het omstreeks 03:00 begin toeneem en teen 06:57 'n hoogtepunt bereik met 3 800.
Teen die tyd dat die TikTok-bokser en die voormalige driedubbele wêreld-swaargewigkampioen in die kryt geklim het, het die Netflix-stroom vir baie kykers heeltemal opgedroog.
Die geveg was veronderstel om 'n groot trekpleister te wees om Netflix-intekenare te lok, wat sy kykertal in die vierde kwartaal met 10 miljoen wou verhoog, aldus Bloomberg Intelligence.
Maar toe stroom kykers eerder na sosiale media, waar party gedreig het om hul intekening te kanselleer.
Een X-gebruiker het Netflix sarkasties bedank "omdat julle ons teruggebring het na die gloriedae van dial-up-internet".




















