Was jy besig om ’n HBO-reeks op Showmax te kyk wat skielik spoorloos verdwyn het? Of was daar ’n fliek wat deur Warner Bros. Discovery vervaardig is wat jy nog wou kyk maar nie meer op die stromingsdiens kan vind nie?
Dit blyk dat gewilde reekse, onder meer Euphoria, Game of Thrones en seisoen een van The Last of Us, asook sekere flieks nie meer op die Suid-Afrikaanse stromingsdiens beskikbaar is nie.
MultiChoice, wat Showmax besit, het op Netwerk24 se navraag oor waarom die reekse verdwyn het, bloot gesê: “Die beskikbaarheid van individuele reekse is onderhewig aan deurlopende ateljee-lisensiëring en verspreidingsooreenkomste.
“Daar is niks verder om in dié stadium aan te kondig nie en enige opdaterings sal deur die gewone kanale gedeel word.”
Canal+, wat MultiChoice oorgeneem het, het einde Desember op die nippertjie ’n transaksie met Warner Bros. Discovery onderteken om 12 kanale te red wat van DStv af sou verdwyn het.
LEES OOK | 12 DStv-kanale gered ná ooreenkoms met Warner Bros. wyl 4 sluit
Die ooreenkoms behels:
- CNN International en Cartoon Network sal eksklusief in Suid-Afrika aangebied word en op ’n nie-eksklusiewe grondslag in ander lande;
- Cartoon Network Porto sal eksklusief in Angola en Mosambiek, en nie-eksklusief in ander dele van Afrika aangebied word; en
- Cartoonito, Cartoonito Porto, Discovery Channel, Discovery Family, Real Time, ID, TLC, HGTV, Travel, TNT Africa en Food Network gaan nie-eksklusief aangebied word.
Die twee het voorheen gesukkel om oor die verlenging van die kontrak ooreen te kom.
Netwerk24 het na Warner Bros. Discovery en MultiChoice uitgereik om te hoor of die HBO-reekse wat weg is, moontlik deel is van ’n kontrak waaroor nog onderhandel word.
MultiChoice het nie die navraag beantwoord nie en Warner Bros. Discovery het nie op Netwerk24 se navrae gereageer nie.
News24 berig wel Warner Bros. Discovery sê dit is die geval en die kontrak wat die twee in Desember onderteken het, sluit TV-reekse van HBO uit.
Dit sluit ook inhoud van Warner Bros. Discovery se rolprent- en TV-ateljees uit. Dis inhoud wat MultiChoice kry om op M-Net en M-Net Movies op DStv en Showmax uit te saai.
Om die inhoud te verkry, moet Canal+ ’n nuwe, aparte kontrak met Warner Bros. Discovery onderteken.
Warner Bros. Discovery sê Canal+ en MultiChoice gaan nie verdere HBO- of Warner Bros. Discovery-inhoud vir M-Net en Showmax ontvang totdat ’n nuwe ooreenkoms bereik is nie.

HBO-inhoud is wel steeds op Showmax beskikbaar.
The Pitt, True Detective: Night Country, Task, House of the Dragon en seisoen twee van The Last of Us is van die inhoud wat steeds beskikbaar is.
Netwerk24 het na albei partye uitgereik om te hoor of dit ’n fout is en of dit nog deel van ’n ander kontrak is.
Die verlies van inhoud kom op ’n tydstip dat MultiChoice, wat in September deur Frankryk se Canal+ verkry is, sukkel om intekenare te behou.
Die maatskappy het amper 3 miljoen kliënte oor die afgelope twee boekjare verloor.
Warner Bros. Discovery aanvaar bod van Netflix
Warner Bros. Discovery het in Oktober gesê hy is oop vir oorname-aanbiedings en sy direksie het daarna ’n aanbod deur die stromingsdiens Netflix aanvaar.
Warner Bros. Discovery het formeel ’n aanbod van Paramount Skydance vir die hele maatskappy van die hand gewys.
Die Netflix-aanbod, wat voorkeur by die direksie geniet, sluit nie die aankoop van Warner Bros. Discovery-TV-eiendom soos CNN en Discovery in nie, wat aan ’n nuwe maatskappy, Global Networks, sal behoort as die ooreenkoms met Netflix deurgevoer word.
LEES OOK | Paramount daag Warner Bros. voor hof oor aanbod om CNN te koop
Paramount neem Warner Bros. Discovery egter nou hof toe oor die aanbod.
Indien die transaksie met Netflix voortgaan, kan sommige HBO-inhoud dalk die een of ander tyd na Netflix oorskuif.
Sê jou sê
Het enige van jou gunstelingprogramme skielik verdwyn? Deel jou mening in die kommentaar. – stefani.terblanche@media24.com



















