Sedert Canal+ op 22 September beheer oor MultiChoice oorgeneem het, was een van die hoofdoelwitte van die Franse mediagroep om te kyk waar hy koste kan bespaar – en die “ooglopend onsuksesvolle” Showmax vreet baie geld.
Amandine Ferré, finansiële hoof van Canal+, het Donderdag op ’n beleggerskonferensie gesê die groep werk aan ’n oplossing vir die Showmax-stromingsdiens, “wat baie geld oor die laaste jare gebruik het”.
Maxime Saada, uitvoerende hoof van Canal+, sê Showmax is nie ’n kommersiële sukses nie.
“Dit is nogal ooglopend. Daar was baie toegewyde beleggings in bemarking, inhoud en tegnologie en ons is in ’n posisie om daardie beleggings te verminder,” sê hy.
“Ek sal nie sê met hoeveel nie, maar dit is beduidend.”
Saada sê Canal+ probeer om koste te bespaar op so ’n manier dat die groep nie waardevolle intekenare verloor nie.
“Andersins kan dit soos ’n pleister wees wat ons kan afruk… maar ons sal dit nie doen nie, want daar was soveel investering dat ons baie ruimte het om die situasie daarvan te verbeter.”
Hy sê voorts Canal+ is in gevorderde gesprekke met Comcast gewikkel.
“Ek kan natuurlik nie kommentaar lewer op die besprekings nie, maar ons kan wel sê ons het volle vertroue in ons vermoë om die verlies van Showmax aansienlik te verminder.”
NBCUniversal en Sky, filiale van die Amerikaanse maatskappy Comcast, het in Maart 2023 ’n vennootskap met MultiChoice aangekondig. Ingevolge die ooreenkoms het MultiChoice 30% van Showmax aan NBCUniversal verkoop.
LEES OOK | Groot veranderinge vir Showmax op pad
MultiChoice het toe verseker dat dit meer internasionale vermaak en ’n versnelde belegging in plaaslike inhoud sou meebring.
MultiChoice-intekenare val
David Mignot, die Afrika-baas van Canal+, sê MultiChoice het in 2023 ’n hoogtepunt van 17,3 miljoen kykers gehad, maar dat die syfers in 2025 rondom 14,1 miljoen begin dans het.
“MultiChoice het nie so goed presteer soos wat dit oor die afgelope drie jaar kon nie,” het hy op die beleggerskonferensie gesê.
“Die afname was te wyte aan ’n kombinasie van interne en eksterne faktore. MultiChoice se markte is getref deur beurtkrag en die devaluasie van hul geldeenhede. Dus het die goed geoliede kommersiële enjin wat, soos jy histories van die vorige dekade kan sien, aansienlik verlangsaam.”
Saada sê egter hulle is baie opgewonde en tevrede met wat hulle by MultiChoice gesien het sedert hulle die maatskappy oorgeneem het.
Personeel en ander kontrakte
In antwoord op ’n vraag oor kostebesnoeiings wat personeel betref, sê Saada hul verbintenis is om vir drie jaar nie in Suid-Afrika personeel te verminder nie.
Volgens die voorwaardes wat die Mededingingskommissie aan Canal+ rakende die oorname van MultiChoice gestel het, word ’n moratorium vir drie jaar op afleggings geplaas.
LEES OOK | Canal+ Africa skommel interne leierskorps na Multichoice-oorname
Saada sê egter MultiChoice is in 16 lande bedrywig en die meeste van die sinergie-kostebesparings is nie personeelverwant nie.
“Ek sê nie daar gaan nié personeelvermindering wees nie.”
In antwoord of hulle sommige projekte gaan staak, sê Saada voordat die oorname afgehandel is, het hulle ’n span saamgestel om sinergieë te identifiseer.
“Die dag toe ons oorneem, het ons dadelik aan elke inhoudverskaffer vir MultiChoice in Afrika geskryf en gesê dat ons nie die kontrakte gaan hernu nie en dat ons oor die voorwaardes moet onderhandel.”
Hy sê daar is bespiegel dat hulle nie betyds met Warner Bros. Discovery ’n ooreenkoms sou beklink nie, maar dat hulle dit reggekry het.
LEES OOK | 12 DStv-kanale gered ná ooreenkoms met Warner Bros. wyl 4 sluit
Ferré sê as deel van kostebesparings het hulle ook gekyk of hulle sommige eksterne kanale oor spesifieke onderwerpe moet stop en eerder hul eie kanale moet skep en só die voordeel van laer koste wat daardeur gegenereer word moet kry. Sy het nie verder oor die onderwerp uitgewei nie.
Volgens Saada is Canal+ nie van plan om hom uit enige lande te onttrek nie, maar hy en Mignot meen die mediagroep kan dalk sy voetspoor in sekere lande verbreed.
Mededingers
Volgens Saada is Canal+ bewus van die mededingende landskap, maar hy sê hulle probeer ook seker maak dat die potensiële mededingers hul vennote word.
“Met Netflix, Warner en Paramount… ons verwag geen negatiewe impak op kort of mediumtermyn met hulle nie.”
Hy sê voorts dit is nie maklik vir stromingsdienste om altyd inhoud in Suid-Afrika te vervaardig nie.
“ ’n Baie groot platform wat met ’n A begin en met ’n N eindig, het uit Suid-Afrika onttrek wat die vervaardiging van inhoud betref.”
Saada verwys klaarblyklik na Amazon Prime, wat in Januarie 2024 besluit het om nie nuwe reekse of flieks in Suid-Afrika vir die stromingsdiens te vervaardig nie.
Saada sê egter dat mededingers dit soms makliker maak om mense te oorreed om vir televisie te betaal. Toe Netflix in Frankryk bekendgestel is, het slegs 30% van die mense vir televisie en stromingsdienste betaal. Nou is dit al 75%, sê hy.
Ander koste
Canal+ raam die gekombineerde groep se kostebasis vir 2025 op sowat €8 miljard, verdeel tussen die koste van inhoud (sowat €4,6 miljard) en tegnologie- en ander koste (ongeveer €3,4 miljard).
Koste-sinergieë sal na verwagting bestendig toeneem, met meer as €150 miljoen in ebita en vrye kontantvloei wat in 2026 geteiken word.
Die groep sê dat meer as €80 miljoen aan vrye kontantvloei-sinergieë vir 2026 reeds verseker is, onder meer deur nuwe inhoud-vennootskappe, heronderhandelde hardewarepryse en die optimalisering van uitsaai- en tegnologie-infrastruktuur.
- Canal+ sal verdere besonderhede oor die gekombineerde groep se strategie verskaf wanneer die groep sy resultate vir die jaar geëindig op 31 Desember op 11 Maart 2026 publiseer.











