Ek is lief vir jou, Suid-Afrika. Elke deel van jou.
Jou skoonheid wat hemelsbreed verskil van elke hoek waarvan ek na jou kyk. Van jou majestueuse bergreekse tot die uitgestrekte, verlate Karoo. Jou welige betowerende boswêreld en die sprankelende blou van jou see.
Ek is lief vir jou eiesoortige manier van praat, Suid-Afrika. Dit is 'n stem wat so aan my hartsnare pluk. Jou robot en ag shame, jou lekker, nou-nou en eish, jou ja-nee, braai, boerewors en babelaas, woorde wat in my gedagtes dans en my warm omhels.
Net soos met jou woorde is ek in verwondering oor hoe verskillende reuke my aan jou laat dink. Die eerste reuk van reën wat neerstort op die dorre aarde; die rook van 'n braaivleisvuur, die aromas van die Afrika-bos en die geur van 'n warm koppie rooibostee wat my tuis laat voel.
Ek verlustig my in jou smake, Suid-Afrika. Jou bobotie, koeksisters, melktert en vetkoek, jou pap, biltong, ouma-beskuit en braaibroodjies. Jou bunny chow, bredies, potjiekos en malvapoeding, alles wat so eie aan jou is.
Ek raak nostalgies as ek dink aan my grootwordjare saam met jou, Suid-Afrika.
"You've been schucksed!", "Vyftig randjies vir jou!", "Hulle noem my Liewe Heksie", en 7de laan se deuntjie wat mooi herinneringe van jou deur my gedagtes laat flits.
Ek verlustig my aan jou dryfkrag, geloof en positiwiteit, Suid-Afrika
Tog is alles nie altyd goed nie en soos ons almal, het jy partymaal jou slegte dae, maar ek verlustig my aan jou dryfkrag, geloof en positiwiteit, Suid-Afrika.
Jy straal voortdurend goedheid uit, ongeag die sleg wat met jou mag gebeur. Jy wat altyd sal opstaan nadat jy gestruikel het, maar nie voordat jy eers 'n ou grappie daaroor gemaak het nie.
My hart klop warm oor jou omgee vir jou medemens. Jy wat altyd gereed staan om ander te help wanneer die noodlot hul tref.
Ek geniet jou uniekheid, Suid-Afrika. Jou donkiekarre op die snelweg, mengelmoes van tale. Jou hadedas, vuvuzelas. Jou shosholozas.
Ek verkyk my aan jou diversiteit en kultuur wat so uiteenlopend is, maar saamvleg om die laslappiekombers te vorm wat jy dra, met jou kleurvolle styl en diep gewortelde trots. Ek het verering vir jou vele talente. Van sport tot kultuur tot akademie staan jou hande vir niks verkeerd nie.
My hart bloei net vir die mense wat in 'n langafstandverhouding met jou moet wees. Wat hulself probeer oortuig dat "uit die oog, uit die hart" en wat hulle nou het, eintlik beter is.
Maar tog sal 'n mens nooit jou eerste liefde vergeet nie! Dit is en sal altyd 'n deel van jou wees.
Ek kan net dankbaar wees dat ek elke dag hier by jou is, Suid-Afrika, en ek jou uniekheid eerstehands kan ervaar. Ek is lief vir jou, Suid Afrika, nie net vir alles wat jy is nie, maar vir hoe jy my laat voel. Trots. Gelukkig. Geseënd. Dankbaar. Hier onder die warm Afrika-son.
- Lara Otto is 'n finalejaar meestergraadstudent in farmasie aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom.
- Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig die van Netwerk24 nie.
- Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
- Volg ons op Instagram en Facebook!
WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF? Maar jy wonder hoe dit werk? Kyk hierdie video:






















