
Ja, dit mag dalk soos 'n oksimoron klink, soos 'n antivaks-dokter of 'n ateïstiese dominee, maar ek glo ons generasie moet meer oopkop oor die wetenskap van die ekonomie wees.
Volgens die Wêreldbank het meer as 1 miljard mense die afgelope 30 jaar uit die kloue van algehele armoede ontsnap. Toe kom Covid-19 en druk 150 miljoen mense terug tot onder die broodlyn.
Hoe kan ons die lewensomstandighede van daardie 150 miljoen mense, en alle ander mense wat in armoede leef, verbeter? En hoe kan ons die Verenigde Nasies se doelwit haal om algehele armoede teen 2030 uit te wis?
Die antwoord is: Dit is meer as haalbaar, maar net as die ontwikkelende wêreld vryemarkbeginsels en sakevriendelike beleid toepas.
Die voetpad na 'n wêreld sonder algehele armoede is nie so smal soos die pad na die hemel nie, en hierdie roete is al voos gestap!
Al hoe meer lande het oor die laaste paar dekades kapitalistiese beleide toegepas in 'n poging om die lewenspeil van hul bevolkings te verbeter. Lande soos Singapoer, Botswana, Suid-Korea, die Verenigde Arabiese Emirate en Ierland het deur middel van pragmatiese ekonomiese planne armoede ordentlik in die pad gesteek of aansienlik verminder.
Suid-Afrika en neoliberalisme
Selfs ons eie wye en droewe land, Suid-Afrika, het van 1999 tot 2008 met gemiddeld 4,5% per jaar gegroei, en in 2006 was ons groei net onder 6%.
In Suid-Afrika het talle faktore hiertoe bygedra, maar 'n groot dryfkrag agter die vooruitgang was die ekonomiese beleid van oudpres. Thabo Mbeki en Trevor Manuel, oudminister van finansies.
Mbeki het 'n meestersgraad in ekonomie van die Universiteit van Sussex in Engeland behaal en Trevor Manuel is van die min moderne ANC-leiers wat glo in neoliberalisme - 'n term wat gebruik word om die herlewing van die opvattings wat verband hou met ekonomiese liberalisme en vryemarkkapitalisme te beskryf.
Ongelukkig het Mbeki en Manuel se opvolgers 'n bloudruk vir 'n ander ekonomiese plan in hul korrupte aktetasse gehad . . . en Suid-Afrika se ekonomie het sedert die begin van die Zuma-era drasties gekrimp.
Kapitalisme is nie 'n perfekte stelsel nie. Buiten die onafwendbare feit dat vandag se jong mense kapitalisme moet aangryp, moet hulle ook skouer aan die wiel sit om kapitalisme te reformeer en te verbeter.
Wat skort met kapitalisme?
'n Ongereguleerde vorm van kapitalisme kan die aarde verwoes.
Regerings en groot maatskappye besef nie altyd dat die aarde nie oor 'n bodemlose put van natuurlike hulpbronne beskik nie.
Om 'n paar piepklein voorbeelde te noem: National Geographic berig dat die wêreld van 1990 tot 2016 sowat 1,3 miljoen km² se woude verloor het. Dit is 'n groter gebied as Suid-Afrika! Dit is net die spits van die smeltende ysberg - daar is oorweldigende wetenskaplike konsensus oor die rampspoedige impak van menslike aktiwiteite en nywerhede op die klimaat van ons planeet en habitatverwoesting.
Kapitalisme moet reformeer om meer volhoubaar en minder skadelik vir die aarde te wees.
'n Familie van vier skapies
Die Suid-Afrikaanse jagbedryf is 'n goeie voorbeeld. Die syfers van die spesies wat gejag word, daal nie. Hoekom? Want 'n wildboer maak seker dat daar nie te veel manlike of te veel vroulike diere uitgeskiet word nie. Elke trop moet 'n kans gegun word om voort te plant sodat daar meer is om te jag.
Dit is hoe groei werk. Gee vir twee gesinne elkeen 'n skaap. Die een familie slag hom vir Kersfees en smul die hele Kersdag lank! Die ander familie besluit om eerder honger te ly oor Kersfees en vir 'n tweede skaap van die teenoorgestelde geslag te spaar.
Ná ses maande se harde werk en blaarslaai eet, kry hulle toe die tweede skapie. Teen die volgende Kersfees het die tweede gesin se twee skapies mekaar goed leer ken en aangegroei tot 'n familie van vier skapies! Die eerste gesin sit met niks. Ek glo dit is onkapitalisties om sleg te werk met hulpbronne. Ons kan nie die aarde uitput en verwoes nie!
Vet kat, deel jou melk!
Die tweede hervorming wat kapitalisme benodig is die eeue oue Bybelse beginsel: Die arbeider is sy loon werd! As die wêreld meer mense wil help om hulself uit armoede te sleep moet die vet katte hul melk deel. Daar is te veel maatskappye in die wêreld wie se werkers nie 'n leefbare loon verdien nie.

Mense in groot stede moet deesdae verskeie werke hê om net kop bo water te hou. Selfs van die grootste maatskappye maak steeds gebruik van hongerfabrieke (sweat shops) en kinderarbeid. Ons het kapitalisme met empatie nodig. Die vrou wat die T-hemp maak en die man wat die kakaobone oes, moet ook in die winste deel.
Dit is ook baie duidelik dat mense nie meer belastingverlagings aan rykes wil gun nie. Niemand word bevoordeel wanneer jy rykes aanmoedig om hul maatskaplike verantwoordelikheid te minag nie. Buiten dat trickle-down economics nie werk nie, het verskeie peilings bevind dat die meeste Amerikaners, sowel Republikeine as Demokrate, nie meer ten gunste daarvan is nie.
As ons kapitalisme se nadele kan pak en dit hervorm na 'n stelsel met groter klem op volhoubaarheid, empatie vir die mensdom en omgee vir die aarde en sy hulpbronne, sal dit 'n gesonde ekonomie tot gevolg hê.
Vat wat werk
Van my mede-millenniërs is verbaas as ek sê ek glo in kapitalisme, want al my ander politieke opinies is dan liberaal en links op die politiese kompas. My denkpatroon is as volg: Ons ekonomiese oortuigings moet gegrond wees op dit wat werk, of dit nou links of regs op die politieke skaal is! Charles de Gaulle het mos gesê dat politiek 'n te ernstige saak is om in die hande van politici gelos te word.
Ek sê dieselfde oor die ekonomie! My generasie moet pragmaties wees oor die ekonomie en nie idealisties nie. Ekonomie is 'n wiskundige en menslike berekening, nie 'n politieke debat nie.
Ons moet vat wat werk en raak van die res ontslae!
- Heinrich Nienaber studeer tans LLB aan die Universiteit van Pretoria.
- Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig die van Netwerk24 nie.
- Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
- Volg ons op Instragram en Facebook!
WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?
Maar jy wonder hoe dit werk? Kyk hierdie video:















