Grootste les van 2021: Covid-19 is géén grap nie

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Aneesha Marsh Foto: Verskaf
Aneesha Marsh Foto: Verskaf

Hierdie jaar was natuurlik vol van sy eie probleme met streng reëls wat by die kampusse toegepas word. Met almal wat mekaar boonop nie kan sien nie, was dit maar moeilik.

Maar ek kon nooit voorsien wat nóg kon gebeur nie.

Eksamen vir die eerste semester is agter die rug. Almal is met vakansie en almal wag in angs vir hul uitslae.

7 Julie is D-dag. Wat volg, was definitief nie wat ek verwag het nie.

Ek was ontsteld maar het dit nie gewys nie. En ek weet daar is altyd nog 'n kans.

Dit is maar net nog die begin. 'n Paar dae daarna het ek 'n hoes wat net nie wil weggaan nie.

My ouers besluit om my dokter toe te neem. Net om veilig te wees. Die dokter stuur my om 'n Covid-19-toets te laat doen en die volgende oggend kry ek 'n boodskap dat ek positief vir die virus getoets is. Ek isoleer natuurlik so gou moontlik.

'n Week gaan verby en ek voel al hoe beter.

Vol energie. Asof ek geen Covid-19 het nie, maar ek het steeds 'n hoes wat net nie wil weggaan nie.

Op 20 Julie begin ek 'n bietjie anders voel. Ek lê toe nou nie meer gemaklik nie. Ek haal daardie aand baie moeilik asem.

Die oggend van 21 Julie wou ek van my bed afklim, maar ek kon nie.

Ek het nie verstaan wat aangaan nie, en het besluit om maar weer te lê.

My ma kom tot by die deur van die kamer waar ek isoleer en vra wat fout is. Ek sê ek kan nie lekker my bene beweeg nie.

Sy help my op en ek kan voel ek kan nie loop nie. Sy motiveer my om in ons gang op en af te loop.

Ek haal al hoe moeiliker asem. Sy laat my weer op die bed sit. Sê dat ek die Onse Vader moet bid. In daardie oomblik bid ek dit. Daar rol net een druppel traan uit my oog.

Nou dit is waar die legkaartstuk uit my geheue is. Die een oomblik is ek by die huis, dan is ek by die Mediclinic Paarl. Die volgende oomblik skrik ek wakker en dink natuurlik ek is nog in die Paarl.

Ek sien vreemde gesigte en ek kan sien ek is in 'n hospitaal maar ek kan nie praat nie.

Daar is pype in my neus en mond gekoppel. Ek sien vreemde gesigte en ek kan sien ek is in 'n hospitaal maar ek kan nie praat nie. Ek lê net en kyk wat aangaan.

Ek maak of ek in Grey's Anatomy leef. Vergelyk die actual dokters met die karakters in die reeks. Ek is duidelik baie mal oor die reeks.

Die dag kom dat hulle die pyp uit my mond haal. Ek probeer praat, maar geen geluid kom uit nie. Dit is toe dat ek begin stres want my stem is iets wat ek nodig het.

Hulle vertel my ek kan nog nie vaste kos eet nie.

Hoe kan Covid-19 só baie skade aanrig?

Ek moet weer leer loop, praat, skryf en my geheue word getoets. Ek dink steeds ek is in die Paarl.

Totdat ek uit hoësorgeenheid kom, besef ek ek is in die Mediclinic Durbanville.

Daardie oomblik is ek so geskok. Ek het die heeltyd geen kontak met die buitewêreld gehad nie.

Ek hoop julle onthou ek is op 21 Julie hospitaal toe. Toe ek wakkerskrik was dit 28 Julie. Ek was dus 'n week lank in 'n koma.

Ek is op 4 Augustus ontslaan. Ek kon toe 'n klein bietjie praat, maar hakkel al die pad. Ek kon 'n bietjie loop.

Dit is nog nie eers die einde van die verhaal nie, maar op hierdie goeie noot wil ek die eerste gedeelde afsluit.

Moet nooit moed verloor nie en as dinge gebeur, vat dit dag vir dag - jy sal daardeur kom.

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF? Maar jy wonder hoe dit werk? Kyk hierdie video:

Aneesha Marsh, Boland College

SPELETJIES VANDAG

CTA