Liewe Suid-Afrika, wanneer is ek volgende?

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Suné Smith
Suné Smith

Nelson Mandela het gesê "terwyl ek by die deur uitgestap het na die hek wat na my vryheid sou lei, het ek geweet as ek nie my bitterheid en haat agterlaat nie, sal ek steeds in die tronk wees".

Liewe Suid-Afrika, ek leef nie met bitterheid of haat in my nie, maar met vrees; die tronk van vrees.

Vrees dat ek uitgaan en verkrag, beroof of beseer word.

Ek leef in vrees of ek veilig terug huis toe sal kom. Ek hoor van gevalle, ek lees berigte, maar liewe Suid-Afrika, wanneer is ek die volgende slagoffer, die volgende opskrif? Of wanneer is ek die een wat slegte nuus kry?

"Ek is jammer mevrou, u geliefde se liggaam is gevind."

Ek het dit nie besef nie, maar die sprokies wat ek as kind gelees het, het vandag vir my 'n dieper betekenis.

Liewe Suid-Afrika, die drie varkies het my geleer die aaklige wolf is daar buite en ál plek waar ek veilig is, is in my huis.

Indien ek nie my huis reg bou nie, kom die nare wolf dalk net inkom.

Hekke, slotte, alarmstelsels en 10111 op spoedbel.

Sneeuwitjie het my geleer om niemand te vertrou nie.

"Goeiemiddag mevrou, ons is hier namens die munisipaliteit om die kragbokse in die area te ondersoek, sal mevrou asseblief oopsluit, dit sal nie vyf minute van mevrou se tyd neem nie."

Vertrou ek jóú liewe Suid-Afrika, en ek mag dalk nes Sneeuwitjie op die vloer beland.

Scooby-Doo het my touwys gemaak dat die regte monsters eintlik maar mense is.

Liewe Suid-Afrika, ek't gedink my ouers is oorbeskermend as hulle sê "los jou waardevolle goed by die huis as ons uitgaan".

"Speel eerder in die voor- of agtererf as in die straat, my kind."

Toe word ek 'n tiener en dit verander na "laat weet my as jy daar kom".

"Moenie vanaand alleen loop nie, stap saam met mense wat jy ken."

"Wil jy nie asseblief tog hierdie botteltjie traangas saamvat vanaand nie?"

En met 'n groot gesug het ek altyd maar gesê "ja, Mamma, ek weet!"

Nou is ek 20. Dankie Mamma.

Want nou, Suid-Afrika, sien ek ook werklik die gevare waarteen my ma my probeer beskerm het.

Liewe Suid-Afrika, ons is bekend as die reënboognasie.

So mooi soos wat dit klink, wil ek weet, liewe Suid-Afrika, hoekom roei ons dan ons broers en susters uit?

Ek is in 'n donker plek, maar nie geestelik nie. Daar is duisternis oral, want ek bly in Suid-Afrika.

Want hier gaan die brandstof op en die krag af.

Suid-Afrika sal altyd deur my are vloei en ek glo jy sal weer verbeter, liewe Suid-Afrika. Hoekom? Want:

Amandla! Awethu!

The power is ours!

Die krag behoort aan ons!

  • Suné studeer sielkunde (BA psychology) aan die Nelson Mandela Universiteit.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig die van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Volg ons op Instagram en Facebook!

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF? Maar jy wonder hoe dit werk? Kyk hierdie video:

Suné Smith, Nmu

SPELETJIES VANDAG

CTA