My KZN-ervaring op pad na Potch

Esmari Marais
Esmari Marais

Dis Sondag 11 Julie. Ons het besluit om van Mtunzini in KwaZulu-Natal terug te ry Potchefstroom toe, aangesien die president sou praat en ons nie seker was of die provinsies se grense sou oop bly nie.

My oom en tannie het voorgestel dat ons vyfuur die oggend in die pad moet val aangesien paaie toegemaak kan word.

Dus groet ons mekaar in die donker en ry al klaar 'n om-pad vir ingeval. Die bergpasse werk op my senuwees omdat daar lankal nie meer kat-ogies is nie en omdat ons nie weet wat om die volgende draai vir ons wag nie. Daar is steeds oorblyfsels van die vorige paar dae se padversperrings en klippe wat gegooi is; dis nie 'n mooi prentjie nie.

Omstreeks 07:30 swaai ek uit vir takke en klippe wat oor die pad gepak is en kom tot stilstand waar die pad heeltemal toegepak is en plaaslike inwoners besig is om brandstof oor die takke te gooi en aan die brand te steek.

Moedeloos kyk ons hoe 'n man vir ons beduie dat ons nie sal regkom om eens te probeer deurry nie, selfs 'n rooi bakkie draai by die toneel om. Ons volg maar die vriendelike mense wat ons vertel het van 'n ompad wat deur die nedersetting gaan, en so is ons daar deur, met elke voetganger se hande wat ons eers bespeur vir klippe voordat ons verby ry.

Dit was maar net 'n rustige Sondagoggend in KwaZulu-Natal. . .

Dit was maar net 'n rustige Sondagoggend in KwaZulu-Natal. Daarna is ons op hoogte gehou van paaie wat toegemaak is oral in dié provinsie, asook Gauteng. Ek is sommer vies van die stresvolle rit terug Potchefstroom toe en begin vrae vra, soos hoekom trek die polisie motoriste af om te kyk vir permitte, maar daar is nie polisie op die paaie om voertuie te beveilig nie?

Dit was slegs die begin van al my vrae.

Die Maandag is ons in die veiligheid van ons studentehuis terwyl ek toekyk hoe die sosiale media vlamvat saam met die land.

Waarskuwings oor waar en wanneer betogers sou toeslaan is lank voor die tyd uitgestuur, maar daar is geen polisie op die tonele nie. Joernaliste stel die publiek in kennis soos hulle kan, en die inwoners van die gebiede raak self joernaliste deur die video's en foto's wat hulle plaas om mense te waarsku en te smeek vir hulp en gebed.

20210713 NETWERK24  Winkeleienaars en werkers begin om op te ruim na plunderaars die Mams Mall in Mamalodi deur die nag geplunder het.   Foto DEAAN VIVIER.
20210713 NETWERK24 Winkeleienaars en werkers begin om op te ruim na plunderaars die Mams Mall in Mamalodi deur die nag geplunder het. Foto DEAAN VIVIER. (Deaan Vivier)

Inwoners staan gewapen by dorpsingange en winkelsentrums om hul mense en verskaffers te beskerm; en ek dink, was daar nie juis 'n paar weke terug 'n petisie teen 'n nuwe wapenwet nie?

Berigte lui dat die betogers ongewapen is, tog is daar video's wat teenstrydig is met hierdie teorie. Verder is elke tweede video op sosiale media 'n bewys van misdaad, hoe winkels geplunder word en niks word daaraan gedoen nie, want daar is mos net te veel mense om vas te trek. Dit lei my na meer vrae.

Hoekom het niemand opgetree toe die waarskuwing van betogings uitgestuur is nie?

Hoe moet ons as Suid-Afrikaners steeds in ons veiligheidstrukture glo?

Hoekom is die weermag slegs na Pietermaritzburg toe gestuur en nie die res van KZN nie?

Hoe kan 'n mens armoede blameer vir hierdie optrede as die mense drank, elektriese toestelle, tasse en meubels uit die winkelsentrums dra?

Sal hierdie winkels wat onder die betogings geraak is, darem toelae kry van die regering?

Laastens wil ek net weet, sal hierdie winkels wat onder die betogings, of moet ek eerder sê blatante misdaad, geraak is, darem toelae kry van die regering? Aangesien hulle tog die belasting aan die regering betaal. Of sal hulle self moet swem uit die rooi gloed van vlamme en die rooi waarin die ekonomie gestoot is?

Hoewel baie van ons antwoorde op hierdie vrae wil hê, sal ons slegs hoop vir Suid-Afrika op ons knieë vind.

Daarom moet diegene wat nie hulself vereenselwig met die betogers nie, hande vat en #PrayForSA.

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF? Maar jy wonder hoe dit werk? Kyk hierdie video:

Esmari Marais, Noordwes Universiteit

SPELETJIES VANDAG

CTA