My pad met gestremdheid nie sonder ’n doel

Sodra 'n mens die woord "gestremdheid" hoor, dink jy dadelik aan iemand wat nie kan loop, praat of enigiets doen wat 'n gewone mens kan doen nie.

Maar volgens my is die ware gestremdheid in mense as hulle geen lekkerte in hul lewe het nie.

Ander sien my dalk as gestremd, maar ek sien dit as 'n uitdaging. Hierdie uitdaging is vir my 'n geskenk, want ek het sterker geword deur daarmee saam te leef. My gestremdheid is artrogripose, 'n abnormale volgehoue fleksuur (buiging) van 'n gewrig.

Deven Rooy as kind.
Deven Rooy as kind.

Omdat ek een maer been en een vet been het, het die dokters gedink ek sal nie kan loop nie.

My liggaamsbou is ook nie soos die gewone mens s'n nie. My rug groei skeef, my vingers kan nie reguit nie en my een duim lê altyd plat.

Maar keer dit my om dinge vir myself te doen? O nee, ek het net sterker geword deur daarmee saam te leef.

Al hierdie dinge het my nooit gepla of agter gehou nie. Ek het so grootgeword met mense wat altyd kyk na my, my spot en vra hoekom ek so is.

Ek is egter nie grootgemaak om bitter te wees met hulle nie, maar eerder om hulle meer te inspireer.

Altyd as ek saam met mense loop en ek word aangekyk of so dan sal die persoon by my altyd wil antwoord, maar my woorde bly altyd: "Los hulle in die hande van die Here!"

Deven Rooy
Deven Rooy

Eintlik is ek ook net 'n gewone mens. Hoewel ek soms van 'n rolstoel afhanklik is, het ek by 'n gewone skool skoolgegaan. Ek was gemaklik rondom my maats en almal het altyd gehelp.

Ek was in 2014 in gr. 7 toe die duiwel my probeer onderkry het met 'n groot rugoperasie. Die dokters was onseker of ek weer sal kan loop.

In daardie tyd is my ma se suster oorlede en moes my ma tussen haar begrafnis en om by my in die hospitaal te wees kies. Ons het als in God se hande gelos, gebid en hom toegelaat om te beweeg.

Toe gebeur die wonderwerk - die operasie was nie meer nodig nie! Volgens die dokters was my longe te swak en waarskynlik kan my regterlong nie uitbrei as gevolg van my liggaamstruktuur nie. Ek het geweet die Here het 'n plan vir my, so dit het my nie gepla nie.

Die jare het aanbeweeg en ek het dikwels met longprobleme in die hospitaal beland.

Ten spyte hiervan het ek elke jaar met deursettingsvermoë aangepak en ondanks 'n baie moeilike matriekjaar in 2019 het ek skool klaar gemaak.

Drie weke voordat ek met my finale eksamen begin het, was my urine een oggend bloedrooi sonder enige pyne. Ek is dadelik hospitaal toe en twee dae daar gehou vir toetse wat als negatief was.

Ek is toe ontslaan en weer ná die tweede week opgeneem met longontsteking. Dit was erg. Die dag voor my eerste vak is ek teater toe, my eerste vak het ek geskryf sonder om te studeer as gevolg van pyn en al die medikasie.

Die skool het voorgestel ek fokus op my gesondheid en skryf eksamen in Junie 2020, maar ek het vir myself gesê ek gaan deurdruk.

In 'n hospitaalbed het ek die fondasie van my toekoms gelê waaraan ek nou besig is om te bou.

My hele eindeksamen het ek in die hospitaal geskryf. Met God aan my sy het ek dit gemaak en dalk sal ek later selfs 'n BA-graad behaal.

In 'n hospitaalbed het ek die fondasie van my toekoms gelê waaraan ek nou besig is om te bou.

Die pad was moeilik - emosioneel en fisiek. Om te wees waar ek vandag is, 20 jaar oud, was nie maklik nie. Ek maak gebruik van elke geleentheid wat ek kry.

Vandag is ek 'n semifinalis van ‘Mr Central South Africa'.

Ek is hier, 'n ware getuie dat die hand van God oor elkeen van ons se lewens is. Die lewe het my gedruk, maar Hy het my vasgehou.

Ek is 'n bewys dat God in staat is om wonders te doen!

  • Deven het ‘n sertifikaat in kantoorbestuur en in menslike hulpbronne en beoog om openbare bestuur deur Unisa volgende jaar te studeer. Hy woon tans in Bloemfontein.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig die van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat?Lees meer meningstukke hier.
  • Volg ons op Instagram en Facebook!

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF? Maar jy wonder hoe dit werk? Kyk hierdie video:

Deven Rooy, Saaac kollege

SPELETJIES VANDAG

CTA