Die afgelope twee jaar gaan vir seker 'n paar bladsye by die geskiedenisboeke voeg.
Indien 'n mens iemand voor 2020 sou vra wat 'n masker is, sou die meeste geantwoord het dit is iets wat jy na 'n maskerbal of Halloween-partytjie sal dra.
Die wit-en-blou- mediese maskers het kort daarna meer as net die mediese wêreld betree, en kan bykans in enigiemand se handsak of baadjiesak gevind word. Dit het tweede natuur geword om jou beursie, sleutel en masker te gryp as jy die huis verlaat.
Aan die begin van die Covid-19-pandemie was mense baie gehoorsaam aan die nuwe regulasies ten einde almal teen die virus te beskerm.
Die realiteit is egter dat ons in Suid-Afrika bly en dit lyk asof ons eie regering enige geleentheid sal misbruik om 'n gaping vir korrupsie te skep.
Ek meen die maskermandaat het heeltemal te lank geduur - veral as jy dink aan die studentelewe waar honderde mense sonder maskers in 'n kuierplek bymekaar is, maar as jy 'n Spar betree, moet jy gemasker wees.
Wie word dan eintlik hierdeur beskerm?
'n Mens moet logies en rasioneel wees oor maskers en besef dit bied net tot 'n sekere punt beskerming.
Dit dien geen doel om 'n masker te dra as jy by 'n restaurant inloop, en dit dan afhaal sodra jy gaan sit, asof die koronavirus dan skielik wyk nie.
Uit 'n mediese oogpunt het maskers sekerlik 'n verskil gemaak voordat mense ingeënt was, maar mense het al lankal immuniteit begin opbou.
Wat wel moet gebeur, is dat mense verantwoordelikheid begin aanvaar om 'n masker te dra as hulle siek is.
In Japan en ander lande het 'n bedagsaamheidskultuur ten opsigte van maskers ontwikkel.
Dit is ou nuus vir die Oosterse kulture waar dit algemeen was voor Covid-19, en al sedert die 1950's gedoen word. Die gebruik het skerp toegeneem toe ernstige akute respiratoriese sindroom in 2003 uitgebreek het en maskers het bykans 'n modebykomstigheid geword op die strate van lande in Asië.
Maskers is ingespan vir meer as net beskerming bied teen siektes. Dit is ook gebruik om mense teen hoë vlakke van lugbesoedeling te beskerm, en handig as 'n mens jou lipstiffie tuis vergeet het . . .
In Japan en ander lande het 'n bedagsaamheidskultuur ten opsigte van maskers ontwikkel. Dit word beskou as beleef en respekvol teenoor ander as jy siek is en openbare vervoer gebruik of met die publiek werk.
Dit is uiteindelik verfrissend om weer in 'n winkel in te loop en vir almal jou "pearly whites" te kan wys. Mense se ware identiteit kom agter die maskers uit en jy hoef nie meer in die gange van winkelsentrums te wonder of dit regtig jou beste vriend is wat daar stap nie.
Ons kan net juig dat die maskerstorie agter die rug is, en dat ons ná 'n lang twee en 'n half jaar weer vrylik in die openbaar kan rondloop.
- Marcel studeer finansiële rekeningkunde aan die NWU (Pukke).
- Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig die van Netwerk24 nie.
- Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
- Volg ons op Instagram en Facebook!
WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?
Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.
















