Die sewejarige ek het geskreeu van opgewondenheid toe my pa vir my die mooiste babapop gekoop het. Neus in die lug het ek die pop in my arms terwyl ek by die huis instap, wetend dat 'n groot verantwoordelikheid op my as "moeder" rus.
Met liefde het ek daardie pop se hare geborsel; haar aan- en uitgetrek as haar klere vuil was en selfs my susters getugtig as hulle my pop laat val of "seermaak".
Van jongs af het ek my goddelike aard as vrou-mens herken deur daardie pop met al my mag te vertroetel en te beskerm.
Versorging, tegemoetkomendheid; toegewendheid; beskermend. Dit is al die eienskappe waarvan vroue in vandag se samelewing sistematies gestroop word om by die "korrekte" beeld van vrouwees in te pas. Die vermoë om 'n kind in die wêreld in te bring, wat ek voel is die grootste geskenk aan 'n vrou, word grootskaals deur liberale in Amerika gekritiseer.
Kan 'n vrou kies om 'n aborsie te kry? Die kwessie is in die middel van 'n sosiale gesprek wat weer aangevuur is weens 'n verandering in Amerikaanse wetgewing. Soos ons nou al weet, is die Roe v. Wade-beslissing, 'n besluit uit 1973 wat aborsie landwyd gewettig het, omgekeer.
Die VSA is voorheen geruk deur 'n uitgelekte dokument wat regters se menings bevat, en pro-keuse-betogers het die strate ingevaar.
Met haar klein dogtertjie aan die heup, staan die vrou wat sowat sewe maande swanger is, met groot letters op haar maag: "not yet a human".
As 'n buitelander was ek geskok oor die beelde van betogings wat ek aanlyn gesien het van woedende betogers wat selfs dreig om regters dood te maak. Een foto van 'n swanger betoger het my veral geskok oor die boodskap van die mensdom wat sy uitstuur. Met haar klein dogtertjie aan die heup, staan die vrou wat sowat sewe maande swanger is, met groot letters op haar maag: "not yet a human". Die ontkenning van voetjies wat skop in jou maag en die ongebore baba se bestaan, is afskuwelik.
Dit walg my dat ongebore babas behandel word asof hulle vervangbare produkte is wat net so teruggeruil kan word. Dit walg my dat jong vroue geïndoktrineer is om te dink dat hulle meer bemagtig en vry sal voel deur 'n keuse wat tot geestesprobleme kan lei.
Volgens 'n studie wat in die British Journal of Psychiatry deur prof. Priscilla Coleman gepubliseer is, word skade soos depressie en angs aangerig aan vroue wat uit aborsieklinieke stap.
Nie net geestelik nie, maar fisieke skade word aangerig aan die vroue wat die proses deurgaan, skade aan die serviks en baarmoeder; bloeding; infeksie en sepsis; skade aan interne organe; verhoogde risiko vir borskanker; toekomstige miskrame en onvrugbaarheid en die mees ironiese van almal die dood.
Ekstreme voorvalle van verkragting word in pro-lewe-aktiviste se gesigte gegooi om aborsie te regverdig.
890 000 babas word jaarliks geaborteer in Amerika en net 3% was die gevolg van verkragting. Aborsie word behandel soos 'n soort geboortebeperking en word net so oorgedra aan die jonger generasie wat tienerswangerskappe aanhits. Die moontlikheid van aanneming word laaste in ag geneem, want aborsie is die "beste oplossing".
Dit is absolute kranksinnigheid vir volwasse vroue om uit te basuin dat 'n volledig ontwikkelde baba nie 'n mens is nie.
Ek wil almal wat trots agter die pro-keuse-beweging staan, aanmoedig om die geskiedenis van aborsies na te slaan.
Ek wil almal wat trots agter die pro-keuse-beweging staan, aanmoedig om die geskiedenis van aborsies na te slaan. Jy sal gou besef wat jy eintlik ondersteun, was van die begin af 'n rassistiese ideologie met die missie om minderhede uit te wis.
Gaan lees oor Planned Parenthood, 'n nie-winsbejagte organisasie in Amerika, wat gestig is deur 'n eugenetikus, Margaret Sanger. Sy was toegewyd aan die uitwis van 'n minderheidsgroep ("Negro group"). Volgens die 2010-sensus is 79% van Planned Parenthood se aborsieklinieke ook in die buurte van minderhede gesetel.
Ek is teleurgesteld dat ons jonger generasie, veral jong meisies, moet leef onder 'n kulturele en sosialistiese blik waar net een perspektief gevoed word. 'n Perspektief wat jonges breinspoel om te glo "dit is my keuse, my liggaam" voordat hulle die kans kan kry om hul eie gedagtes te kan ontwikkel.
Ek voel die seer vir ander sewejarige meisies wat sal groot word in 'n ongelowige samelewing wat haar sal laat dink dat die vroulike eienskappe wat vir hulle uniek en kragtig uitstaan, 'n totale "leuen" is.
- Joy werk tans aan haar meestersgraad in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van die Wes-Kaapland.
- Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig die van Netwerk24 nie.
- Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
- Volg ons op Instagram en Facebook!
WIL JY VIR DIE DIE STUDENT SKRYF? Maar jy wonder hoe dit werk? Kyk hierdie video:

















