Roe vs. Wade: Nié ’n geloofskwessie

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Luka Jansen van Vuuren Foto: Verskaf
Luka Jansen van Vuuren Foto: Verskaf

Op Vrydag 24 Junie het die Amerikaanse hooggeregshof die Roe vs. Wade-uitspraak, wat die grondwetlike reg op aborsie vasgestel het, tersyde gestel. Ek wil hê u as leser moet my mening met 'n oop gemoed lees, ongeag u agtergrond, godsdiens of lewensbeskouing.

Die omverwerping van R vs. W is 'n miskenning van menseregte.

Die aanvanklike uitspraak het vroue se reg op hul eie liggaam beskerm deur hulle in staat te stel om hul eie keuse te maak. Deur die uitspraak om te keer, beteken dit dat vroue in die VSA nie 'n sê oor hul eie liggaam het nie en dat hul liggaamlike outonomie nou deur die staat beheer word.

Ek is van mening dat die staat nié die liggaamlike outonomie van enige mens mag beheer nie.

Die kern van die R vs. W-saak was oor vroue se liggaamlike outonomie (alhoewel die saak vir aborsie aangehoor is).

Die saak het die reg beklemtoon van 'n vrou om 'n besluit oor haar eie liggaam te neem. Geen regering mag enigiemand se besluite oor hul eie liggaamlike outonomiteit beheer nie. Dit is jou liggaam en jou keuse, en jy moet met die gevolge van daardie besluite saamleef.

Voordat iemand op die wa spring dat aborsie moord is en dus teen godsdienstige beginsels is, wil ek sê dat dit geensins 'n godsdienstige argument is nie. Die rede daarvoor is omdat ons nie die gesag het om enige godsdienstige beperkings op 'n individu se regte op te lê nie, want die handhawing van liggaamlike outonomie het niks te doen met iemand anders as daardie persoon se godsdiens nie.

Jy behoort dieselfde vlak van ondersteuning te ontvang as die individu wat verkies om 'n aborsie te ondergaan as jy vanweë jou geloofsoortuiging besluit om nié een te hê nie.

'n Fetus het nie die vermoë om tot by geboorte op sy eie lewe te onderhou nie, daarom bly dit 'n deel van die moeder se liggaam tot die bevalling en is dit gevolglik slegs onderworpe aan haar liggaamlike outonomie.

As ons dit tot op die eenvoudigste vlak afbreek, kom dit alles neer op keuse. Wat ook al die gevolge van daardie keuse is, dit bly daardie persoon se verantwoordelikheid.

Ek glo dat aborsies gewettig moet word vir vroue wat slagoffers van verkragting is, vroue wat weet dat die baba met 'n gestremdheid gebore gaan word en vroue wie se lewe op die spel is indien hulle geboorte sou gee.

Die omverwerping van R vs. W is 'n politieke stap gemik daarop om geslagsgelykheid ongedaan te maak en vroue te onderwerp.

Die menseregte van miljoene vroue is deur uiters magtige individue vertrap. R vs. W is deur hulle omvergewerp op grond van 'n siening van die reg wat op vrouehaat neerkom.

Ek is bekommerd dat hierdie stap die deur oopgemaak het vir baie meer geleenthede om morele geregtigheid toe te pas en die menseregte van miljoene mense te beperk, in te kort of dalk af te skaf. Daarbenewens sal dit lei tot 'n kettingreaksie van vergelykbare uitsprake en ideologiese beperkings op menseregte, wat tot die verlies aan ontelbare lewens in die VSA en baie ander nasies sal lei.

Ten slotte, as dit nie jou liggaam is nie, het jy geen gesag daaroor nie en geen reg om besluite daaroor te neem nie. Ongeag jou motivering of doelwit. Jou liggaam, jou keuse.

Ek wil graag krediet gee aan Juan-Pierre van der Walt vir die opening van 'n bespreking oor hierdie onderwerp en ook vir sy insigte in hierdie artikel.

  • Luka is 'n nagraadse student aan die Universiteit van Pretoria.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig die van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Volg ons op Instagram en Facebook!

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?

Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.

Luka Jansen Van Vuuren, Universiteit Van Pretoria

SPELETJIES VANDAG

CTA