Saak van mensdom vs. depressie

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Thea-Mari Visagie Foto: Verskaf
Thea-Mari Visagie Foto: Verskaf

"Swart is nie 'n kleur nie."

Dit was die woorde van my gr. 4-kunsjuffrou.

"Hoe kan dit dan wees?" het my tienjarige brein gewonder. Ons sien dan orals in ons lewe swart en dit is party mense se gunstelingkleur.

Sy het verduidelik dat swart nie 'n kleur is nie, maar slegs die afwesigheid van lig. Nou is ek éérs deurmekaar. Ons kan tog 'n lig op 'n swart voorwerp skyn en dit bly swart? Die woorde het by my gespook en ek kon dit nooit regtig verstaan nie, totdat ek dit kon verbind met iets spesifieks. Depressie.

Depressie. Angstigheid. Posttraumatiese stresversteuring (PTSV). Die lys is lank. Alles geestesversteurings wat in ons alledaagse gesprekke vermy word.

'n Taboe onderwerp, maar tog iets waarmee ons almal iewers in ons lewe te doen kry.

Ek het al baie vriende en familielede probeer help deur hul donkerste tye, min wetend waardeur die mense regtig gaan. Soos alles in die lewe verstaan jy net iets volkome indien jyself in die situasie beland.

'n Paar maande gelede het depressie een van my grootste vyande geword. Elke dag baklei ek in 'n oorlog teen dit wat ek nie gekies het nie. Op 'n donker aand het ek besluit ek gaan depressie vierkantig in die oë kyk en dit aankla van al die misdade wat dit al teen my en die mensdom gepleeg het. Ek het 'n pen en 'n papier gegryp en begin skryf.

Dít is my hofsaak teen depressie:

Die hamer slaan drie keer neer. Die geskarrel en gefluister van mense raak stil in die stampvol hof. 'n Oorverdowende stilte heers.

Die beskuldigde word ingebring. Hy het 'n agterbakse glimlag op sy gesig en sy swart oë voel asof dit my deurdring.

"Ek sal nou saak nommer 6587 aanhoor," sny die regter se woorde deur die hof. Die regter wys met 'n knik van sy kop dat ek kan begin. Ek haal diep asem en beweeg tot reg voor die beskuldigde. Ek kyk een van my grootste vyande in die oë, maar ek is nie meer bang vir hom nie.

Ek begin: "Mnr. Depressie . . .

"Die saak teen jou is een van die wreedste wat ek nóg gesien het. Miljoene slagoffers het al gely as gevolg van jou. Daar is geen patroon van hoe jy jou slagoffers kies nie. Ryk, arm, mans, vroue, wit of swart, en almal wat in die middel val. Daar is wel een ding wat jou slagoffers in gemeen het. Jy het hulle geteiken toe hulle op hul kwesbaarste was. Jy saai verwoesting in ons gemeenskappe. Jy word aangekla van die volgende: Roof, mishandeling en moord."

Hoe sou n hofsaak teen depressie lyk? Foto: Unsplash
Hoe sou n hofsaak teen depressie lyk? Foto: Unsplash (Unsplash/Unsplashed)

Die regter kyk na die beskuldigde en vra: "Hoe pleit jy?" Hy kyk my in die oë en die woord "onskuldig" gly soos gif uit sy mond.

"Mejuffrou, jy kan jou saak teen die beskuldigde stel en jou bewyse bring."

Ek knik my kop en gee my bewyse aan die regter.

"Ons sal begin by die ligste aanklagte: roof. Jy roof mense van hul geluk, van hul positiwiteit en hul wil om te leef. Jy begin baie subtiel. Jou slagoffers is gewoonlik onbewus van wat jy aan hulle doen. Hulle vertel hulself dat dit net 'n ‘af dag' is, maar jou greep op hulle word net sterker en sterker. Die ‘af dae' word meer en meer, donkerder en donkerder. Jou slagoffers verloor kontak met die werklikheid. Dae begin saamsmelt en as hulle hul oë uitvee, is dae of selfs weke verby sedert hulle geëet het, uit die bed uit opgestaan en met mense gepraat het. So beroof jy mense van hul menswees. Jy beroof hulle van hul verhoudinge met hul geliefdes. Jy beroof hulle van al die lig in hul lewe."

Hy kyk my in stilte aan en skud sy kop.

"Laat ons aangaan na die volgende aanklag: mishandeling. Jou slagoffers begin met selfverwoestende gedrag. Die naaste en maklikste oplossing wat hulle kan kry, word aangegryp. Statistieke toon dat 17% van jou slagoffers hulself skade aandoen, van wie 47% hulself sny. Jy veroorsaak soveel hartseer vir jou slagoffers dat hulle emosioneel oorlaai word, wat dan tot paniek lei. Hulle rig skade aan hulself aan om tydelike verligting van jou te kry. Ná die tyd voel hulle so skuldig oor hul optrede dat hulle weer eens deur emosies oorlaai word, en dan begin die siklus van voor af.

"Verder veroorsaak jy dat jou slagoffers verval in alkoholisme of aan dwelms verslaaf raak. Enigiets dat hulle vir 'n kort rukkie nie aan jou dink nie en voel asof hulle in beheer van hul lewe is. Jou slagoffers loop dikwels vir die res van hul lewe met letsels as gevolg van jou.

"Hierdie is voorbeelde van die fisieke mishandeling wat jou slagoffers deurgaan, maar jy plaas ook gedagtes in hul koppe. Donker gedagtes. Afbrekende gedagtes. Hulle is later in 'n oorlog met hulself gewikkel. Jy mishandel hulle ook geestelik. Ongelukkig is die werklikheid dat die mishandeling geprojekteer word op die mense naaste aan jou slagoffers. Hulle word soms so negatief beïnvloed dat dit hulle kwesbaar maak om jou nuwe slagoffers te word."

Die beskuldigde se antwoord slaan my stom: "Dit is nie my skuld nie! Ek het nie die lemmetjie in hul hand gesit of die drank in hul kele afgegooi nie. Hulle het dit aan hulself gedoen."

Ek kan nie glo hy neem glad nie verantwoordelikheid vir sy optrede nie. Ek gee 'n tree agtertoe en kry my gedagtes agtermekaar.

"Laastens: moord. Jy sien, die mishandeling waardeur jy jou slagoffers laat gaan, gaan partykeer te ver. Die sny is dieper as verwag of die hoeveelheid dwelms wat hulle neem, was 'n bietjie te veel. Jy vermoor partykeer per ongeluk jou slagoffers, maar jy is verantwoordelik vir meer as die helfte van selfdoodpogings. Meer as 700 000 mense neem elke jaar hul lewe.

Hy maak sy mond oop om te protesteer teen die aanklagtes, maar die regter maak hom stil.

Dit laat reeksmoordenaars soos Ted Bundy en The Night Stalker soos amateurs lyk. Jy martel jou slagoffers tot die punt waar hulle selfdood as die enigste uitweg sien. Jy is verantwoordelik vir die moord op soveel bekende name: Robin Williams, Marilyn Monroe, Chester Bennington, Avicii . . . Jy maak jou moorde openbare nuus en jy verseker miljoene mense weet jy is verantwoordelik. Jou moorde skeur families uitmekaar, skeur mense uitmekaar.

"Die grootste probleem is daar is soveel stigma aan jou verbonde. Wanneer jou slagoffers besef jou greep op hulle word te sterk, is hulle te bang om hulp te vra. Hulle is so bang dat hulle verstoot gaan word en dat mense gaan dink hulle is ‘mal'. 35% van jou slagoffers kry glad nie behandeling nie en dié wat dit wel kry, kry medikasie wat hulle vir die res van hul lewe moet neem. Die medikasie hou jou weg, maar jy is altyd naby hulle soos 'n skaduwee en jy wag vir 'n geleentheid om weer toe te slaan. Jou slagoffers bestee 'n groot deel van hul lewe in die spreekkamers van sielkundiges en psigiaters, so bang dat iemand gaan uitvind hulle is daar.

"Edelagbare, ek dink nie meer bewyse is nodig nie. Die hof is vol ooggetuies en slagoffers wat kan getuig, maar ek dink ek het vir ons almal getuig. Baie dankie."

Hy maak sy mond oop om te protesteer teen die aanklagtes, maar die regter maak hom stil.

"Mnr. Depressie, ek het nie tyd nodig om te dink oor my uitspraak nie. Ek bevind u skuldig aan alle aanklagte."

'n Gejuig van blydskap breek uit in die hof. Trane van blydskap rol oor my wange. Vir die laaste keer gaan staan ek voor hom. Ek kyk hom in die oë en sê: "Ek hoop jy kry 'n swart oorpak in die tronk. Oranje is 'n te vreugdevolle kleur vir jou. Jy sien swart is nie 'n kleur nie, dit is die afwesigheid van lig, en dit is presies wat jy is."

My gr. 4-juffrou het dalk 'n punt beetgehad. In 'n wêreld waar ons elke dag soveel donkerte ervaar, is dit maklik om jouself te sien val in 'n pikswart gat waaruit dit voel of jy nooit gaan ontsnap nie. Maar onthou, daar is altyd 'n liggie om die swart te breek. Die soektog na dié liggie is dalk lank en moeilik, maar moenie moed opgee nie. Ek belowe die liggie is daar.

Kassie

Hier is 'n paar noodnommers:

• South African Depression & Anxiety Group - SADAG0800 12 13 14

• Adcock Ingram Depression and Anxiety Helpline - 0800 70 80 90

• Lifeline South Africa - 0861 322 322

• South Africa Suicide Crisis Helpline - 0800 21 22 23

Besoek gerus jou kampus se webblad vir meer inligting oor berading.

  • Thea is 'n vierde jaar farmasiestudent aan die NWU. Sy is oorspronklik van Upington.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig die van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente skryf? Lees meer meningstukke hier.
  • Volg ons op Instagram en Facebook!

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF? Maar jy wonder hoe dit werk? Kyk hierdie video:

Thea-Mari Visagie, Noordwes-Universiteit

SPELETJIES VANDAG

CTA