In 'n peiling wat Die Student op Instagram gehou het, het dit geblyk dat sowat die helfte van die platform se volgelinge nog skepties is oor of hulle die Covid-19-inenting sal kry.
Dié studente/jong mense is egter groot voorstanders van inenting:
Rasaad Adams, Noordwes-Universiteit

Dit is so belangrik vir ons om te besef dat miljoene Suid-Afrikaners hul werk verloor het weens die virus.
Dan is daar ook die duisende mense wat nie 'n storie kon vertel van hoe hulle Covid-19 oorwin het nie. Die entstof is ons eerste tree om na 'n normale lewe terug te keer.
Carli Jacobs, Akademia
Ek sal myself beslis teen die virus laat inent. Nie net vir myself nie, maar vir my geliefdes en mense na aan my. Vir die eenvoudige rede dat ek geensins 'n behoefte het om op die ouderdom van 23 die aarde te verlaat nie!
Liebe Botha, Noordwes-Universiteit
Die wetenskap en navorsing spreek vir hulself. Daar is vir my geen rede om nie daarin te glo nie. In my oë weeg die goeie baie meer as die slegte.
Die entstof is ons kaartjie "terug" na normaal. Ek glo dit is van kardinale belang dat ons elkeen die entstof nie net kry nie, maar ook ander motiveer om dit te kry. Ek kies om te glo die wêreld is goed, en ek glo ook in die wetenskap, want hoekom sal dit my nou skielik ná 20 jaar skade aandoen?
Dit is vir my verstommend hoe mense kies om inligting via Facebook te versprei en glo. Die inligting rondom hoekom 'n mens nie die entstof moet kry nie, is net nie realisties nie. Hierdie inligting word in 'n vakuum gesien en mense neem nie enige eksterne kwessies in ag wanneer hulle die inligting opneem nie.
William Sezoe, Universiteit Stellenbosch

Die toekoms van Suid-Afrika, sy ekonomie en die res van die wêreld, behoort aan die jeug. Daarom moet jong mense die regte, gesonde en verantwoordelike ding doen om ons almal se toekoms te verseker, deur die jab te gaan kry. #steekmy!
Robyn Schutte, Rhodes-Universiteit

Ons is menslik, en die weiering weens vrees is normaal.
Maar dit is presies vrees en die verspreiding van misleidende inligting wat toegelaat het dat die virus dodelik geword het.
Dit raak almal van ons. Ek het onlangs die geleentheid gekry om die inspuiting te kry, en ek was ook angstig daaroor. Ek het nietemin voortgegaan en gereken as my oupa dit kan doen, kan ek ook.
Tewens, wat 'n beter manier om die entstof te bevorder as om uit eerstehandse ervaring daaroor te praat?
Ek erken dus my voorreg en wil dit graag gebruik as 'n manier om as 'n hulpbron vir my portuur en ander op te tree.





















