My reis by Netwerk24: Arisa Schamrel

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Arisa Schamrel (27), sakeverslaggewer by Netwerk24 in Johannesburg, sê haar passie vir skryf het haar gelei na die joernalistiek, wat haar soos 'n gogga gebyt het en nie wil laat los nie.

Netwerk24, Suid-Afrika se grootste aanlyn inteken-nuusdiens, bied nou twee nuwe prestige-joernalistiekbeurse vir 2023 aan - een vir 'n finalejaarstudent (voorgraads) en een vir 'n nagraadse student wat 'n loopbaan in Afrikaanse digitale joernalistiek wil volg en 'n kollega van Arisa wil word.

Terselfdertyd werf ons ook kandidate vir dieselfde twee beurse vir aanstaande jaar (2024). Die totale waarde van die beurse per jaar beloop R300 000.

Arisa Schamrel (27), sakeverslaggewer by Netwerk24 in Johannesburg. Foto: Melinda Stuurman
Arisa Schamrel (27), sakeverslaggewer by Netwerk24 in Johannesburg. Foto: Melinda Stuurman

Waar het jou belangstelling in joernalistiek begin?

Ek was nog altyd vreeslik lief vir tale en skryf. Een van my onderwysers op skool het dit raakgesien en my aangemoedig om aansoek te doen vir 'n pos as studente-joernalis by die tienerbylae, Jip! Dit het destyds in die dagblaaie verskyn. Ek het einde gr. 10 by Jip! begin en toe ek die dag by Beeld se kantore instap, het ek dadelik geweet dis wat ek die res van my lewe wil doen. En as die gogga eers byt, laat los hy nie.

Hoe het jou akademiese loopbaan ontvou?

In 2014 het ek as student begin by die Noordwes-Universiteit. Ek het 'n BA-graad in kommunikasie verwerf en daarna my honneursgraad in joernalistiek gedoen.

Wat is vir jou die lekkerste deel van joernalis wees?

Die legendariese joernalis Gus Silber het eenmaal gesê (en ek parafraseer seker effens): "Elke mens is 'n storie en elke storie is 'n mens." Die mense is loshande vir my die lekkerste deel van die werk. 'n Mens kry die geleentheid om soveel interessante mense te ontmoet en hul stories te vertel. Jy is werklik 'n stem vir dié wat nie altyd 'n stem het nie. Selfs in my nuwe(r) rol as sakejoernalis probeer ek om mense te help deur die stories wat ek doen.

Hoekom is dit vir jou die moeite werd om 'n loopbaan in die joernalistiek te volg?

Afgesien van die wonderlike mense wat jy ontmoet en die mense wat jy help, is dit vreeslik verrykend vir jou as mens. Jy kry die geleentheid om oor soveel verskillende onderwerpe te leer en regtig jou man te kan staan in enige gesprek. Met die kennis wat jy opdoen, is jy boonop 'n aanwins in enige vasvra-span.

Arisa Schamrel by die JSE-gebou in Johannesburg. Foto: Melinda Stuurman
Arisa Schamrel by die JSE-gebou in Johannesburg. Foto: Melinda Stuurman

Watter storie sal jou vir altyd bybly?

Daar is vreeslik baie. Een wat my wel altyd bybly, is die storie van Robert Davie, 'n pa van Brakpan wat sy eie ma vermoor het.

LEES OOK | Lyk in sement: Man moet 25 jaar sit nadat hy sy ma vermoor

Ons het tydens die storie die geleentheid gehad om deur die huis te loop waar die moord gepleeg is. Ons het betaalstrokies sien lê wat wys hy het ná die tyd met sy ma se kaart wegneemetes en selfs 'n televisie gekoop. Dit was bevredigend om te sien hoe geregtigheid in die hof geskied.

Doen só aansoek om jou reis by Netwerk24 te begin

Stuur vir ons 'n kort motivering (500 woorde) oor hoekom jy in die joernalistiek wil werk en waar jy die grootste bydrae sou kon lewer. Sluit gerus 'n vrywillige multimedia-element in (maksimum 1 minuut). Jou CV, asook jou jongste akademiese rekord moet jou aansoek vergesel. Dui aan by watter instelling jy wil studeer en watter program jy wil volg.

Dokumente wat later aangevra kan word, sluit in 'n afskrif van jou matrieksertifikaat, verdere akademiese rekords, identiteitsdokument en rybewys.

Stuur aansoeke na netwerk24beurse@media24.com.

• Sluitingsdatum vir 2023-beurse: 26 Junie 2023.

• Sluitingsdatum vir 2024-beurse: 26 Junie 2023.

Klik hier vir meer inligting.https://www.netwerk24.com/netwerk24/skole-studente/die-student/studiebeurse/4-nuwe-joernalistiekbeurse-by-netwerk24-20230331

SPELETJIES VANDAG

CTA