Die Universiteit Stellenbosch se 2023- akademiese jaar het op 13 Februarie begin. Op dieselfde dag verskyn die volgende opskrif in Die Burger: "Maties in nuwe ‘taalverbod' ".
Dit kom nadat bewerings aan die lig gekom het dat eerstejaarstudente tydens die afgelope verwelkomingstydperk verbied is om by sekere geleenthede Afrikaans te praat. Dit is net daar, dames en here, waar die appelkar omval.
Pro-Afrikaanse organisasies kondig 'n kode blou aan - mediaverklarings moet so gou as moontlik uitgereik word; politici sien 'n gulde geleentheid vir stemme werf; joernaliste juig, want hulle kry vir 'n oomblik iets anders as die kragkrisis om oor te berig.

Verskrikte ouers kanselleer onmiddellik hul kinders se koshuisplasing en tannie Lettie laat haar Facebook-vriende uit Pretoria weet dat sy eerstehandse kennis van die afskuwelike toestande op Stellenbosch het, want haar suster het met haar eie oë die artikel gelees.
Gelukkig is ek self 'n Afrikaanse en Afrikanerstudent op Stellenbosch en kan ek amper so goed berig oor die gebeure soos tannie Lettie, al kry my suster nie Die Burger in die pos nie.
Die verwelkomingstydperk by die US is 'n baie belangrike tydperk wat ongelooflike harde werk van die US-bestuur en senior studente verg. Eerstejaarstudente met verskillende maatskaplik-ekonomiese agtergronde kom van oor Suid-Afrika heen uit totaal verskillende taal-, kultuur- en geloofsgemeenskappe om almal hul tersiêre onderrig by die instelling voort te sit.
KYK OOK | 'Die Onderhoud met Mia Spies': Prof. Wim de Villiers, rektor van Maties
Indien studente US-behuising gebruik, beteken dit dat dié mense met hul verskillende agtergronde 'n gemeenskaplike huis sal moet deel.
Vir baie van dié studente is dit die eerste keer dat hulle werklik te doen kry met mense van ander agtergronde en US-personeel en senior studente is gevra om met die verwelkomingstydperk studente te bemagtig om met respek met mekaar om te gaan.
As 'n mens in ag neem dat Suid-Afrika 11 amptelike tale het, kan jy jou indink dat dit 'n Babelse verwarring gaan afgee as elke student aandring om slegs in sy of haar moedertaal te kommunikeer.

In my eerste jaar het ons huiskomitee (HK) die verwarring gedemonstreer deur 'n vasvra te reël en 'n vraag in elkeen van die amptelike tale te vra.
Daar was nie een eerstejaar wat al die vrae kon beantwoord nie. Die een taal wat almal egter op 'n basiese vlak kan praat en verstaan, is Engels.
Dis op dié punt wat die vreesaanjaers hul spitvurke in die lug gooi en sê: "Ek gaan nie die taal van die vyand praat nie; die Engelse het ons vroue en kinders in die konsentrasiekampe vermoor en ons uitgebuit; Engels is net 'n liberale aanslag op ons kultuur".
Daar is waarheid in die stelling. Die Engelse het Suid-Afrika gekoloniseer en daar wás 'n Boereoorlog, maar dit het slegs gebeur omdat die Hollanders Suid-Afrika eerste gekoloniseer het en 'n klomp ander Europese groepe toe ook op hul skippies gespring het om te deel in die hulpbronryke grondgebied.
As 'n mens in ag neem dat Suid-Afrika 11 amptelike tale het, kan jy jou indink dat dit 'n Babelse verwarring gaan afgee as elke student aandring om slegs in sy of haar moedertaal te kommunikeer.
Die gevolg is dat die klomp koloniste 'n splinternuwe, hardkoppige nasie met sy eie splinternuwe taal en sonbestande velle hier in Suid-Afrika kom vorm het, en wat uiteindelik gedink het apartheid sou 'n goeie idee wees.
Tog, al sou Afrikaners wou (en van hulle wíl), kan hulle lankal nie meer teruggaan Europa toe nie. Hulle is eenvoudig nie meer Europees nie en Europa wil ons sedert die 1800's nie meer hê nie.
LEES OOK | Krotoa, Stellenbosch en ‘die name, tale en kulture wat net weg is'
Dié hardkoppige nasie is egter by verre nie die enigste hardkoppige nasie wat aanspraak kan maak op bestaansreg in Suid-Afrika nie.
Ondanks Suid-Afrika se oorlogryke geskiedenis (dink maar aan die Mfecane, die Boereoorlog, Bloedrivier en nog baie meer) is daar 11 amptelike tale. Dit beteken dat daar 11 amptelike kultuur- en taalgemeenskappe is wat hardkoppig genoeg was om nie op te hou stry vir bestaansreg in Suid-Afrika se grondgebied nie.
Daar is baie onskuldige bloed gegiet en Suid-Afrika se geskiedenis is besmet met onreg. In baie opsigte duur die stryd teen die onreg voort.
Maar vandag is die oorloë verby en Engels, Afrikaans, Zoeloe, Xhosa, ensovoorts is alledaagse tale wat in Suid-Afrikaanse huise deur Suid-Afrikaners gepraat word, afgesien van hoe die tale in Suid-Afrika gevestig is.
In 2023, op die US se kampus, is Engels toevallig die taal wat almal in die vertrek kan praat en verstaan.
As ek my medestudent tegemoet kan kom deur Engels te praat, beteken dit nie dat ek my bestaansreg in Suid-Afrika prysgee of my voorsate verraai nie. As ek Afrikaans praat tussen my vriende of met trots sê dat ek 'n Afrikaner is, beteken dit ook nie dat ek my voorsate se aksies goedkeur of verafgod nie.
Maar vandag is die oorloë verby en Engels, Afrikaans, Zoeloe, Xhosa, ensovoorts is alledaagse tale wat in Suid-Afrikaanse huise deur Suid-Afrikaners gepraat word, afgesien van hoe die tale in Suid-Afrika gevestig is.
Ons kan nie teruggaan en die verlede se foute regmaak nie, maar ons kan leer en nie dieselfde foute herhaal nie. Daarom respekteer ek my landgenoot deur 'n taal te praat wat ons albei verstaan, want ons is hier en nou saam om te studeer aan die US om die broodnodige vaardighede aan Suid-Afrika se ekonomie te bied wat ons uit ons rommelstatus gaan lig.
Dit is nou belangriker as ooit vir Suid-Afrikaners om mekaar tegemoet te kom, te kommunikeer in 'n gemeenskaplike taal en 'n oplossing vir ons probleme te vind.
Terwyl die vreesaanjaers met hul fakkels en spitvurke Babelse verwarring op kampusse veroorsaak, is korrupte staatsamptenare besig om hul sakke vol te stop met burgers se belastinggeld. Die enigste konstante is verandering, en as ons wil hê dat die verandering tot 'n goeie toekoms lei, sal ons mekaar moet verdra en tegemoet kom, want Suid-Afrika is vir almal wat nou hier is.
- Nina is 'n LLM-student aan die Universiteit Stellenbosch.
- Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig die van Netwerk24 nie.
- Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
- Volg ons op Instagram en Facebook!


















