Ietsie oud, ietsie groen, ietsie nuuts en iets geleen . . . Dit is hoe u 2022-staatsrede beskryf kan word, mnr. Ramaphosa. Iets oud: 'n soveelste maatskaplike verbintenis; 'n belofte om rompslomp met regulering vir ondernemings te sny. Iets groen: die meesterplan vir die industrialisering van kannabisprodukte. Iets nuuts: 'n rompslomp-hoof in die presidensie en 'n miljoen werkgeleenthede vir meestal jong mense. Iets geleen: 'n pak van Foschini as deel van die regering se fokus op die vernuwing en herlewing van die tekstielbedryf.
Dit is alles goed en wel, meneer die president, maar dit is tyd vir minder drome en meer aksie!
U verkies telkemale om u verantwoordelikheid jeens die kultuur van korrupsie, wat die staatskoffers dolleeg maak, te ontduik.
U mea culpa-oomblik gisteraand was beslis nie ietsie nuuts nie. Want sien, meneer die president, u was nog altyd goed daarmee om 'n eerlike diagnose te maak van die talle uitdagings wat die land in die gesig staar. Vir u diagnostiese assessering slaag u dus met vlieënde vaandels. Maar u druip wanneer u die nodige medikasie en toediening daarvan moet voorskryf.
Meneer die president, u het tereg erken dat die ekonomie onmoontlik kan herstel indien daar nie daadwerklik teen korrupsie opgetree word nie. Dit is egter teenstrydig met die feit dat u optrede daarteen tot einde Junie vanjaar uitstel. 'n Benadering wat ANC-eenheid bevorder, maar nie help om die land uit die gat te kry waarin dit as gevolg van staatskaping, voortdurende korrupsie en "covidpreneurisme" is nie. U verkies telkemale om u verantwoordelikheid jeens die kultuur van korrupsie, wat die staatskoffers dolleeg maak, te ontduik.
Ongelukkig het u nie veel gesê oor die strukture wat waarnemende hoofregter Raymond Zondo aanbeveel het om korrupsie in die toekoms te voorkom nie, soos onder meer die teenkorrupsie-agentskap en maatreëls wat ontwerp is om tenderbedrog hok te slaan.
Donderdagaand was die ideale geleentheid om 'n vaste verbintenis tot die inwerkingstelling van sulke belangrike maatreëls te maak, gegewe die vlaag van korrupsie met Covid-verwante tenders.
Meneer die president, dis verblydend om te hoor dat die staat van inperking eersdaags iets van die verlede gaan wees. Vir te lank moes Suid-Afrikaners gebuk gaan onder die, soms lawwe, reëls van dr. Nkosazana Dlamini-Zuma wat as die land se de facto eerste minister geparadeer het. Nou kan die staatskoffers ook weer asemhaal. Of is ek nou te ambisieus?

U 2022-staatsrede het bietjie meer vleis om die been gehad in vergelyking met vorige jare. Maar tensy hierdie doelwitte opgebreek word in tasbare, haalbare uitkomste, sal dit soos baie vorige regeringsbeleide en -planne droë ink op vermorste papier word.
U het nagelaat om besonderhede te gee oor die nuwe omvattende maatskaplike verbintenis en het slegs gesê dat dit binne die volgende 100 dae voltooi sal wees. In u vorige staatsrede het u dit beklemtoon dat Suid-Afrika se vermoë om in wêreldmarkte mee te ding, grotendeels afhang van die doeltreffendheid van ons hawens en spoornetwerk. Wat Donderdagaand se staatsrede reggekry het, is om die tydsraamwerke vir broodnodige verandering by ons hawens en op ons spoorlyne daar te stel.
. . . 'n mens kan argumenteer dat die fiskale beperkings kwalik 'n gepaste verskoning is as so min gedoen word om die buit van miljarde rande te verhaal. . .
Wat die verlenging van die maatskaplike toelaag van R350 per maand betref, kan die verlenging eerder as die instelling van 'n permanente basiese inkomstetoelaag enersyds as die sinvolle opsie beskou word, gegewe die land se fiskale posisie. Andersyds kan mens argumenteer dat die fiskale beperkings kwalik 'n gepaste verskoning is as so min gedoen word om die buit van miljarde rande te verhaal by diegene wat by staatskaping betrek word. Baie van hulle in u party en selfs in u kabinet, mnr. Ramaphosa.
Dit is tyd om van lede in u fopkabinet ontslae te raak. U het immers self 'n mosie van wantroue teen u eie kabinet ingestel toe u Donderdagaand, vir die soveelste keer, 'n kenner van buite u kabinet inkatrol het om die regulatoriese rompslomp vir ondernemings te probeer sny. Of beteken dit dat die skepping van die ministerie van kleinsakeondernemings nie die verwagte resultate opgelewer het nie?
Hoe dit ook al sy, mnr. Ramaphosa, kaderontplooiing en baantjies vir boeties en sussies veroorsaak duidelik meer kwaad as goed en behoort iets van die verlede te wees. Ons het etiese en bekwame leiers en kabinetslede nodig wat nie op 'n missie van selfverryking op die spreekwoordelike soustrein is nie. Tog het u niks omtrent hierdie verderflike praktyk in u staatsrede gesê nie. U het egter ons Grondwet as "die beste in die wêreld" geprys - dalk 'n venynige terugkap na die onlangse meningstuk van minister Lindiwe Sisulu?
Een ding is seker, mnr. Ramaphosa, ons Grondwet moet meer word as woorde op papier; dit moet 'n werklikheid in die lewe van ons mense word. Tensy dit gebeur, sal hierdie progressiewe en revolusionêre dokument irrelevant en betekenisloos word.
U staatsrede was duidelik 'n louwarm affêre. U wou-wou die regte geluide maak en die rigting na die vleispotte van Egipte inslaan, maar is nog te waaksaam dat die glibberige vingers in Luthuli-huis u só kan druk dat u tyd in die Uniegebou net 'n vae herinnering word.
- Timothy Nel het onlangs sy meestergraad in die regte aan die Universiteit van Wes-Kaapland voltooi, en sien daarna uit om binnekort vir sy doktorsgraad te registreer. Hy kom van Ebenhaeser by Vredendal.
- Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig die van Netwerk24 nie.
- Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier!
- Volg ons op Instagram en Facebook!
WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF? Maar jy wonder hoe dit werk? Kyk hierdie video:
















