In ’n tyd waar uitdagings maklik oorweldig, het Brent Ceaser (18) gewys dat deursettingsvermoë en harde werk ’n lewe kan omdraai.
Die matriekleerling van die Klein Nederburg Secondary School in die Paarl het in 2025 tweede in sy graad geëindig en die gesogte Ewan Stoffels-trofee ontvang – ’n eer vir sy merkwaardige veerkragtigheid te midde van moeilike omstandighede.
’n Gesin se stryd
Brent, wat in Table View grootgeword het, beskryf sy pad na matriek as alles behalwe maklik. Sy pa, Patrick, was die broodwinner totdat hul winkel in 2016 moes sluit. Daarna het die gesin op kospakkies oorleef.
Intussen het Patrick se diabetes verswak totdat hy in 2022 medies ongeskik verklaar is.

Hervestiging het deel van hul leefstyl geword: eers van Table View na Saron en later na Porterville. Brent het uiteindelik by familie in die Paarl gaan woon om sy skoolloopbaan voort te sit.
In gr. 10 het hy by Klein Nederburg begin. Hoewel die omgewing nie heeltemal vreemd was nie, was die reëling om ’n kamer met neefs te deel uitdagend. Intussen het sy pa se gesondheid vinnig verswak.
Op 8 Mei 2023 is Patrick oorlede. Brent het geslaap toe sy oom die nuus ontvang.
“Die woorde het my soos ’n vuis in die maag getref toe my oom my wakker maak en die nuus met my deel,” vertel hy.

Daarna het sy wêreld inmekaar gestort. Sy punte het gedaal, hy het skool begin misloop, hy was emosioneel afgesluit en sy gewig het drasties toegeneem. “Ek was vasgevang in my eie gedagtes. Ek het nie meer omgegee oor myself nie.”
Die onne wat aangehou het
Mnr. Toyer Hefca, sy Afrikaans-onderwyser, het eenvoudig nié opgegee nie.
Met volgehoue aanmoediging het hy Brent oortuig om terug te kom skool toe – en terug te kom na homself.
“Mnr. Hefca het my laat verstaan dat my pa sou wou hê ek moet iemand word op wie hy trots kan wees. Dit is toe dat ek besluit het om op te staan en myself af te stof.”
Ander onderwysers het ook gehelp, maar Brent beskryf Hefca as “my engel op aarde”.

’n Leefstylverandering
Brent het sy lewe omgekeer met oefening, gesonder eetgewoontes, meer studietyd en digkuns as emosionele uitlaatklep.
“Ek het my dae gebalanseer – oefening, voeding, rus en kreatiwiteit. Elke tree het my nader gebring aan die mens wat ek wou wees.”
Sy harde werk het gou begin wys. In gr. 11 het hy toekennings vir wiskunde, fisiese wetenskappe en Afrikaans ontvang, met ’n gemiddelde bo 80%. Hy was tweede in sy graad, met Afrikaans as sy sterkste vak.
’n Onvergeetlike oomblik was toe hy tydens die prysuitdeling om hom kyk. “ ’n Golf van trots het oor my gespoel. Toe besef ek ek kan meer bereik as wat ek ooit geglo het.”

Nuwe hoop, nuwe rigting
Brent was verlede jaar top in sy graad in Afrikaans, wiskunde en fisiese wetenskappe. Hy hoop om vanjaar elektriese ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch te studeer.
“Die pad terug na selfvertroue was nie maklik nie,” sê hy. “Maar dit het my geleer dat ek enigiets kan oorkom.”







