Matrieks

Dié VS-uitblinker wil gemeenskap met sy prestasie aanspoor

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Lehlohonolo Mokhothu (17), wat verlede jaar aan die JC Motumi Secondary School in Kutlwanong, Odendaalsrus, gematrikuleer het en een van die Vrystaat se tien toppresteerders is. Foto: Verskaf
Lehlohonolo Mokhothu (17), wat verlede jaar aan die JC Motumi Secondary School in Kutlwanong, Odendaalsrus, gematrikuleer het en een van die Vrystaat se tien toppresteerders is. Foto: Verskaf

Die vrees om in 'n siklus van verlore drome en onvervulde potensiaal te verval, was die dryfkrag agter die harde werk wat hom uiteindelik een van die tien toppresteerders in die Vrystaat gemaak het.

So sê Lehlohonolo Mokhothu (17), wat verlede jaar aan die JC Motumi Secondary School in Kutlwanong, Odendaalsrus, gematrikuleer het. Hy het onder meer 99% vir fisiese wetenskappe en 98% vir wiskunde behaal.

Lehlohonolo het onderskeidings in al sewe sy vakke behaal en 'n gemiddelde van 90,28% behaal.

Benewens sy besonderse prestasie in wiskunde en fisiese wetenskappe, het hy onderskeidings in lewenswetenskappe (97%), geografie (92%), Engels eerste addisionele taal (83%), Setswana huistaal (83%) en lewensoriëntering (80%) gekry.

Die slimkop gaan meganiese en megatroniese ingenieurswese aan die Universiteit van Kaapstad studeer.

Lehlohonolo sê hy kom van 'n baie arm agtergrond en hy wil hoop vir die mense in Kutlwanong skep.

"Ek sien elke dag mense wat ly omdat hulle nie geleenthede met albei hande aangegryp het nie.

"Ek wil die mense in my gemeenskap hoop gee met my storie; die kleintjies wat ná my kom. Ek wil hulle wys dat jy altyd jou beste kan lewer, ongeag jou omstandighede."

Vier van die Vrystaat se toppresteerders Dinsdagmiddag in Bloemfontein saam met dr. Mantlhake Maboya, Vrystaatse LUR vir onderwys, op die departement se nuuskonferensie oor die provinsie se uitslae. Van links is Lehlohonolo Mokhothu van die JC Motumi Secondary School in Kutlwanong, Odendaalsrus, Zak du Plessis van Grey Kollege Sekondêr in Bloemfontein, Maboya, Lerato Khutlane van die Ntemoseng Secondary School in Botshabelo, en Chris Goosen van Grey. Foto: Mlungisi Louw
Vier van die Vrystaat se toppresteerders Dinsdagmiddag in Bloemfontein saam met dr. Mantlhake Maboya, Vrystaatse LUR vir onderwys, op die departement se nuuskonferensie oor die provinsie se uitslae. Van links is Lehlohonolo Mokhothu van die JC Motumi Secondary School in Kutlwanong, Odendaalsrus, Zak du Plessis van Grey Kollege Sekondêr in Bloemfontein, Maboya, Lerato Khutlane van die Ntemoseng Secondary School in Botshabelo, en Chris Goosen van Grey. Foto: Mlungisi Louw

Oor die feit dat hy een van die tien toppresteerders is, sê hy dit is altyd lekker as harde werk vrugte dra en 'n mens vir toewyding en dissipline beloon word.

Dit was nie 'n doelwit om die toptien te haal nie - sy mikpunt was altyd om beter te vaar as in die vorige kwartaal.

"Ek het altyd daarna gemik om elke dag te verbeter."

Lehlohonolo is as die "beste presteerder" in die provinsie aangewys. Dít is die topmatrikulant onder leerlinge "wat 'n swart huistaal as vak het", het Tebogo Kenneth Basjan, die Vrystaatse onderwysdepartement se direkteur van eksaminering, by navraag verduidelik.

Netwerk24 wou weet wat die verskil tussen die departement se titels "toppresteerder" en "beste presteerder" is.

Die toppresteerder is die matrikulant wat algeheel die beste akademies gevaar het - dit is Susan Bender (18) van die Hoërskool Bethlehem Voortrekker (BVHS) in die Oos-Vrystaat.

Susan het onderskeidings in al sewe haar vakke en 'n gemiddelde van 96% behaal. Sy is ook een van die provinsie se tien toppresteerders in rekeningkunde, wiskunde, fisiese wetenskappe en Afrikaans huistaal.

Basjan sê matrikulante se ses beste vakke, lewensoriëntering uitgesluit, word gebruik om die toptien-lys saam te bepaal.

Volgens Lehlohonolo was sy ma, Selina, in trane toe die departement Dinsdag laat weet hy is in die toptien en moet die middag op 'n mediakonferensie in Bloemfontein wees.

Die "ek wil soos jy wees"-manier waarop sy jonger broer, Kamohelo (16), na hom gekyk het toe hulle die nuus ontvang, is wat hy wou bereik.

Hy het ook 'n kleinsus, Renolo Pogisho (5).

Lehlohonolo sê as oudste kind voel hy dis sy plig om hard te werk sodat hy vir sy gesin sal kan sorg.

Sy boodskap aan ander is: "Voor jy in enigiets kan uitblink, moet jy jouself eers ken. Voor mense hul beste kan gee, moet hulle eers hulself verstaan én waar hulle vandaan kom."

- marita.herselman@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM