Wanneer die Basson-gesin van Johannesburg die bordspeletjie 30 Seconds speel, raak dit nogal vurig, sê Ewan Basson (18) van die Helpmekaar Kollege in Johannesburg.
Ewan het 'n indrukwekkende tien onderskeidings in die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) se eindeksamen ingeoes: Afrikaans huistaal, Engels huistaal, Spaans tweede addisionele taal, wiskunde, lewensoriëntering, lewenswetenskappe, fisiese wetenskappe, gevorderde fisika, gevorderde toegepaste wiskunde en gevorderde standaard wiskunde.
Hy is ook die onoorwonne kampioen in sy jaargroep in Blitsbrein Junior, Netwerk24 se algemenekenniskompetisie vir skoliere. Verlede jaar het hy vir die tweede keer die kompetisie in die ouderdomsgroep gr. 11 en gr. 12 gewen.
In 2020 het hy die gr. 8- en gr. 9-afdeling gewen en in 2021 die gr. 10- en gr. 11-afdeling.
Hy leer nie voor die tyd vir algemenekennis-vasvrakompetisies nie. Daarvoor is die lewe veels te interessant, sê hy.

Sy ensiklopediese kennis skryf hy toe aan 'n nuuskierige lewensuitkyk wat deur sy ouers, Dawid, 'n regspraktisyn, en Corneli, 'n voormalige kleuterskoolonderwyseres en nou heeltydse ma, aangemoedig is.
Sy ouers is sy rolmodelle en grootste inspirasie.
"Albei my ouers is buitengewoon intelligent. Ons gesin het gesprekke en debatte oor die vreemdste onderwerpe. Een oomblik sal ons nog gesels en as ons weer sien, redeneer ons oor iets en word die HAT, die WAT en die Viva Afrikaans-woordeboek nadergetrek."
Vandaar die vurige 30 Seconds-sessies, sê hy.
Sy ouers verbaas hom ook gereeld met 'n nuwe stukkie inligting of 'n interessante feit.
"Sonder hul ondersteuning en spirituele insig sou ek nie veel kon vermag nie. Dit was 'n reuseseëning om in 'n huis groot te word waar ons aangemoedig word om konstant na nuwe kennis te streef."
Ondanks sy talle pryse en onderskeidings, meen Ewan dat hy beslis nie die skerpste onder die Basson-broers is nie.
Sy broer Daniël het ook verlede jaar die gr. 8- en gr. 9-ouderdomsgroep van Blitsbrein gewen.
"Stefan, ons 11-jarige broer, sit vir my en Daniël ore aan. Sover lyk dit asof hy dubbel so slim as sy twee ouer broers is."
Ewan gaan vanjaar medies studeer aan die Universiteit van Pretoria.
Die stringe prestasies in sy hoërskoolloopbaan was soms ook 'n tweesnydende swaard, erken hy.
"Ek moes diep introspeksie doen om 'n meer gebalanseerde lewe te lei. 'n Positiewe lewensuitkyk en die konstante najaag van toekennings en sukses loop soms nie hand aan hand nie - iets wat ek moes leer."
Toe hy dit besef, het sy uitkyk op die lewe verander.
"Om te misluk, is amper belangriker as om te seëvier. Die lewe is immers onvoorspelbaar en teleurstelling en oorwinning is met mekaar vervleg.
"Die mens is 'n work in progress en toe ek ophou om koorsagtig mylpale na te jaag, het ek 'n meer positiewe uitkyk op die lewe ervaar. Dit het uiteindelik gevoel asof ek iets bereik. Nou probeer ek eenvoudig die lewe dag vir dag aanpak."




















