Wanneer jy deur die gange van die Transoranje-skool vir dowes (TO) in Pretoria loop, hang ’n opvallende stilte in die lug, maar in die stilte kruip een luide boodskap weg: “Ons kan alles doen wat ander kan, ons kan net nie hoor nie.”
Soos baie ander staan die TO-matriekgroep van 2025 vanjaar voor ’n onbekende wêreld dog vol hoop vir die toekoms. Hoewel die lewe vir ’n dowe mens soms meer uitdagend kan wees, bly dié vier leerlinge vasbeslote om hul drome te bewaarheid.

Thapelo Nonyana (21), Katlego Molobela (21), Martha Mahlangu (22) en Olerato Motshathebe (20) het opgewonde hul skoolloopbaan afgesluit toe hulle op 20 November hul Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SASL)-eksamen afgelê het. Vandag staan hulle, soos hul onderwyser Antony Gama vertel, “gereed om die wêreld te verander”.

Vir Motshathebe (20) was kommunikasie nog altyd ’n groot uitdaging, veral omdat baie van sy eie familielede nie gebaretaal kan praat of verstaan nie. Dit is egter juis in hierdie omstandighede dat sy droom gebore is: “Ek wil baie graag ’n maatskaplike werker word.”
“Vandag is ek baie bly om klaar te wees met skool en ek is baie trots omdat ek weet hoe hard ek en my familie moes veg vir my om hier uit te kom,” vertel hy.
“As dowe mense sit ons natuurlik met uitdagings, want daar’s dikwels min hulpbronne vir ons om ons daaglikse lewe te vergemaklik. Maar as my skoolloopbaan my een ding geleer het, is dit dat uitdagings nie werklik saak maak nie, want daar is altyd ’n weermag wat saam met jou veg.”
Motshathebe se “weermag” was sy familie, wat ondanks hul tekortkominge hom bly ondersteun het, en natuurlik ook sy TO-familie, wat hom weer laat besef het hy kan ook sy eie drome bewaarheid. So wil hy ook vir ander dowes ’n inspirasie en ’n steunpilaar wees.

Anders as Motshathebe, weet sy klasmaat Thapelo Nonyana nog nie heeltemal wat hy ná skool wil doen nie en droom hy nog om eendag ’n groot sokkerster te word.
“Ek het nooit geweet wat ek kán doen, of wat die wêreld buite skool vir my kan bied nie, maar ek het in my matriekjaar weer besef dat daar tog opsies vir iemand soos ek is,” vertel Nonyana.

Martha Mahlangu glo almal moet ’n doelwit hê en vir haar is daardie doelwit om ’n werk te kry en ander dowes te wys “wat gedoen kan word as jy op jou toekoms fokus”.

Gama glo nes sy leerlinge dat hul toekoms blink lyk en hoop hul stories sal ander inspireer om plek te maak in die wêreld vir dié wat “anders” is.










