Die eerste vraestel vir Engels eerste addisionele taal (EAT) het Maandag goed verloop en was beter as in die rekordeksamen, sê matrieks aan die Hoërskool Sentraal (Tralies) in Bloemfontein.
Die Nasionale Seniorsertifikaat (NSS)-eksamen het Maandagoggend in alle erns met die eerste Engels-vraestel aangebreek toe matrikulante óf Engels huistaal, eerste addisionele taal óf tweede addisionele taal afgelê het.
Altesaam 35 653 heeltydse en 8 351 deeltydse kandidate lê dié nasionale eindeksamen in die Vrystaat af, sê die provinsiale onderwysdepartement in 'n verklaring.

Breyten Cupido berig meer as 717 377 heeltydse kandidate oor die land heen is vir die eindeksamen geregistreer.
Netwerk24 het met matrieks van die Hoërskool Sentraal oor die eerste Engels-EAT-vraestel gesels.
"Dit was 'n baie lekker vraestel. Ek dink dit was baie lekkerder as in die rekordeksamen," sê Berné Beukes.
Hoewel sy by vraag 5.1.6 - waar kandidate 'n homofoon vir "allowed" in 'n sin vir een punt moes gebruik - kopgekrap het, was die res van die vraestel vir haar "heel redelik".
Sy het wel vraag 5 die meeste geniet.
Khumo Pitso is versigtig om te sê dit was 'n lekker vraestel, maar hy is tevrede met die antwoorde wat hy verskaf het.
"Ek het darem baie beter geskryf as in die rekord(-eksamen). Ek was baie meer voorbereid. Wat ek ingesit het, is wat ek gaan uitkry."
Die homonieme en homofone het Khumo ook laat kleitrap, maar dié keer by vraag 4.5, wat een punt getel het by die analisering van die strokiesprent.
"Ek het vergeet wat die verskil tussen 'n homophone en 'n homonym is."

By dié eenpuntvraag moes hulle 'n homoniem vir "through" in 'n sin gebruik. Die oorspronklike sin lui: "I'm through playing now."
Die vrae oor die begripstoets, oor die modebedryf, was vir hom lekker, hoewel hy meen dit het oor 'n vreemde onderwerp gehandel.
Hy het die taalafdeling ook baie geniet.
Ella-Mariné Coetzee sê die vraestel het baie beter as verwag en as in die rekordeksamen verloop.
By vraag 5.1.8 was sy onseker watter woordsoort "or" in die spesifieke sin was.
Verder het sy nie eintlik gesukkel nie, sê sy. Sy verwag 'n goeie punt vir die vraestel.
Ella-Mariné het baie van die begripstoets gehou, omdat sy in die vak ontwerp oor dié onderwerp geleer het.
Sy het die Garfield-strokiesprent snaaks gevind, veral omdat sy self 'n kat het.
Daniel Muller verwag ook 'n goeie punt vir die vraestel.
"Ek moes dalk 'n bietjie meer aan die taal gewerk het, maar die toets was in die geheel baie makliker as in die rekordeksamen," sê hy.
"Die stukke wat hulle vir die toets gebruik het, was moeiliker, hoewel die vrae makliker was. Die stukke was net moeilik om deur te lees. Dit het baie feite ingehad wat 'n mens moes afbreek."
Matriekleerlinge lê Dinsdagoggend die eerste ekonomie-vraestel af.





















