Die eerste vraestel van besigheidstudies het Woensdagmiddag geen verrassings vir matrikulante ingehou nie.
Constanze van der Walt, nasionale bedryfsbestuurder van Fedsas, sê terugvoering van ledeskole wys dat dit 'n goeie vraestel was. "As leerlinge goed voorberei het, sal dit goed gaan. Leerwerk is goed getoets en langvrae is direk gevra met geen vangplekke nie."

Matrieks kon by die langvrae kies uit twee vrae waaroor hulle 'n opstel moes skryf.
Die eerste opsie was oor die Wet op Arbeidsverhoudinge waarby hulle kortliks die regte van werknemers ingevolge dié wet moes beskryf, die doel van die wet moes verduidelik, die impak wat die wet op ondernemings het en die strafmaatreëls vir die nienakoming van die wet.
Die tweede opsie het gehandel oor besigheidsbedrywighede (gehalte-prestasie). Hier moes matrieks 'n opstel skryf oor gehalte-prestasie waarby hulle die verskille tussen gehaltebeheer en gehalteversekering moes beskryf, en so meer.
Volgens Pieter Cloete, onderwyser van die Hoërskool Outeniqua in George, het die vraestel geen vreemde of onbekende vrae bevat nie, en matrikulante wat geleer het, behoort goed te vaar. "Die vraestel was baie billik. Uit die langvrae het ons een van hulle verwag, so ek glo die leerlinge was goed voorbereid."

Hy sê die vraestel was op 'n goeie standaard, met 'n paar maklike vrae en 'n paar moeiliker vrae waaroor leerlinge sou moes nadink.
"Besigheidstudies is 'n vak waarvoor geleer moet word en as leerlinge die tyd ingesit het, kan hulle goeie punte verwag."
Cindy Windvogel, onderwyseres van die Hoërskool Charlie Hofmeyr in Ceres, sê Woensdag se vraestel was soortgelyk aan vorige jare s'n.
"Daar is nie te veel afgewyk van die vorige jare se vraestelle nie. Leerlinge wat vorige vraestelle uitgewerk het, sal goed vaar."
Volgens Windvogel sou leerlinge wel mooi moes lees by vraag 6. "Die vraag is nie onbekend nie, maar is wel op 'n ander manier gestel as wat verwag is."
Cloete en Windvogel sê die twee uur was genoeg om die vraestel af te lê.
Bianca Nagel, matrikulant van die Hoërskool Charlie Hofmeyr, het binne 'n uur klaar geskryf. "Ek is baie tevrede met die vraestel, dit was billik, eintlik heel lekker," sê sy.

Sy was veral verlig toe sy sien vraag 5, wat 40 punte tel, handel oor die Wet op Arbeidsverhoudinge, aangesien sy veral op dié onderwerp in haar voorbereiding gefokus het.
Vir Lukhanyo Mjadu van die Klein Nederburg Sekondêre Skool was Woensdag se vraestel baie makliker as in die September-eksamen. "Ek het heel goed geskryf, dit was nie so moeilik soos ek verwag het nie. Ek kon die meeste vrae beantwoord."
Ook Hanna van Zyl, 'n matrikulant van die Hoërskool Parel Vallei, sê sy verwag 'n beter punt vir Woensdag se vraestel as haar September-eksamenpunt. "Dit was 'n baie regverdige vraestel wat goed opgestel is."
Sy erken sy is teen dié tyd van die eksamen al moeg geleer en het grootliks op die uitwerk in vorige jare se eksamenvraestelle gefokus.

















