Woensdag se tweede besigheidstudies-vraestel was relatief maklik, hoewel die verpligte veelvoudige-keusevrae effens uitdagend was, sê matrikulante.
Matrieks van die Brebner High School in Bloemfontein sê hulle het die eksamenlokaal in ligte luim verlaat en meen dit was 'n redelik maklike vraestel.
Kgalalelo Makgetla (18), Oarabetse Marogoa (18) en Rorisang Mahase (17) het dié ervaring borrelend met Netwerk24 gedeel. Hulle al drie verwag goeie punte vir die vraestel.
Die twee uur lange vraestel van 150 punte handel oor besigheidsgeleenthede en -rolle.

Afdeling A (30 punte) bestaan uit veelvoudige-keusevrae en is verpligtend, afdeling B (80 punte) het drie vrae waarvan kandidate twee moes beantwoord, en in afdeling C (40 punte) moes hulle een van twee opstelvrae kies.
Kgalalelo, Rorisang en Oarabetse het al drie vraag 6, wat oor korporatiewe maatskaplike verantwoordelikheid handel, as opstelvraag gekies.
Dit was Rorisang en Oarabetse se gunstelingvraag, terwyl Kgalalelo vraag 3 oor besigheidsrolle verkies het. Volgens haar het dit wel goed met haar by vraag 6 gegaan.
"Vraag 6 het als bevat wat ons geleer het. Ons het genoeg tyd gehad om te leer en ons onderwysers het vooraf mooi vir ons gesê wat om te verwag," sê sy.
Hulle sê die vraestel was veel makliker as in die rekordeksamen.
Vir Oarabetse was dit 'n lekkerder vraestel as verlede Woensdag se eerste vraestel, terwyl die ander twee weer anders voel.
Vraag 5, die ander opstelvraag, het oor beleggingsekuriteite gehandel.
Angie Bezuidenhout (18) van die Hoërskool Wonderboom in Pretoria sê die vraestel was baie maklik, veral vraag 2, 3 en 4. "Dit was baie vereenvoudige vrae." Volgens Angie was dele van die vraestel wel swak vertaal.
Nadia Prinsloo (18), ook 'n matriekleerling van dié skool, sê dit was nie te moeilik nie, maar ook nie te maklik nie.
Sy het dit vergelyk met die eerste vraestel en die vraestelle wat hulle in die rekordeksamen geskryf het, en gesê: "Ek het meer van daai toetse gehou."
Nadia sê sy het met die veelkeusevrae gesukkel, maar die langvraag was vir haar maklik. "Ek hou daarvan om baie te skryf."
Aljorade Amon (18) van die Hoërskool Dirkie Uys in Moorreesburg sê: "Dit was die beste vraestel wat ek nog in my hele skoolloopbaan geskryf het."

Hy meen die vraestel was "tien keer beter" as die eerste vraestel en hy skat hy sal 90% daarvoor kry. Hy was baie in sy noppies met vraag 6. "Dit was die presiese langvraag wat ek gebid het dit sal wees."
Ook hy sê die verpligte afdeling A was effe uitdagend omdat al die vrae volgens hom oor besigheidsgeleenthede gehandel het en leerlinge nie noodwendig daarvoor geleer kry nie.

Kayira Mackenzie (17) van die Hoërskool Charlie Hofmeyr in Ceres sê die eerste vraestel was beslis vir haar beter, veral afdeling A. Sy skat sy sal 123 van die 150 punte in die sakkie hê, met die langvraag-afdeling wat vir haar die maklikste was.
Jani van As (18) van die Hoërskool Vredenburg sê die eerste vraestel was vir haar beter. Sy het soos ander matrieks ook in die tweede vraestel by afdeling A kopgekrap. "Met al die opsies waaruit jy kan kies, maak dit jou so deurmekaar dat jy vergeet wat jy geleer het."
• Verslagspan: Marita Herselman, Keziah Bailey en Deaan Vivier
Vraestel was nie te moeilik, sê onderwysers
'n Bloemfonteinse besigheidstudies-onderwyser sê die tweede vraestel was effens moeiliker as die eerste een, maar nie te moeilik nie. Hy sê dit is gewoonlik die geval weens die volume leerwerk vir dié vraestel.
Die vraestel was op standaard en hy is versigtig optimisties dat leerlinge goeie punte sal behaal.
'n Pretoriase onderwyser verbonde aan Solidariteit se Skole-ondersteuningsentrum (SOS) sê ook dit was 'n billike vraestel. "Ek sien geen vertaal- of taalfoute (in die Afrikaanse vraestel) nie, en al die onderwerpe is volgens die eksamenriglyn gedek."
Sy sê leerlinge behoort goeie punte vir die langvrae te verdien.

















