Matrieks aan die Hoërskool Bloemfontein is vol vertroue dat hulle goeie punte vir die tweede besigheidstudies-vraestel sal behaal.
"Dit was baie lekker, in ag genome dat die tweede vraestel gewoonlik die moeiliker een is. Ek het vraestel 2 meer as vraestel 1 geniet," sê Tsholofelo Motlhale oor Maandag se vraestel.

Sy is die toppresteerder in haar graad in besigheidstudies.
Sommige van die skool se matrikulante het die twee uur lange vraestel binne 'n uur en 'n half kafgedraf, insluitend Tsholofelo.
In die vraestel moet kandidate vraag 1 (verpligte veelkeusevrae) beantwoord, twee van drie vrae in afdeling B en een van twee opstelvrae in afdeling C.
Benewens die verpligte vraag, het Tsholofelo vraag 3, oor besigheidsrolle, en vraag 4, 'n kombinasie van besigheidsgeleenthede en -rolle, beantwoord.
Sy het so effe vasgehaak by vraag 4.2, waar die voordele van 'n maatskappy sonder winsoogmerk beskryf moes word, maar kon wel dié vierpuntvraag beantwoord.
Tsholofelo het vraag ses as opstelvraag gekies.
Dié vraag het oor die beoordeling van spanprestasie en konflikbestuur, deel van die leerwerk oor besigheidsrolle, gehandel.
Dit het baie goed by die langvraag gegaan, sê Tsholofelo.
Sy glo sy sal 'n onderskeiding vir die vraestel behaal.
Anastacia Mulondo en Liam Barbier het ook vraag 4.2 effens uitdagend gevind.
Anastacia sê sy was hier deurmekaar aangesien die vraag na "maatskappy sonder winsoogmerk" verwys het, pleks van "niewinsgewende maatskappy" soos hulle dit ken.
Liam het vroeër die dag ook die chemie-vraestel afgelê en sê hy moes die twee vakke se leerwerk balanseer.
Hy moes ook eers dink wat "winsoogmerk" beteken, maar dit het hom later bygeval.
Verder was daar niks moeilik aan die vraestel nie, vertel hy.
Liam glo hy sal 80% vir die vraestel behaal omdat hy nou nog harder as in die vorige kwartaal gewerk het.
Volgens Anastacia moes sy ook dieper by vraag 4.7 dink, waar die impak van korporatiewe maatskaplike verantwoordelikheid op gemeenskappe vir ses punte bespreek moes word.
Dié leerling verkies die inhoud van die eerste vraestel bo die tweede vraestel s'n en sê vraestel twee het baie meer leerwerk.
Sy het ook vraag 6 as opstelvraag gekies en nie gedink die langvraag sal "so maklik" wees nie.
Die matrikulant verwag 'n onderskeiding, so ook Junior Ntsane.
Vraag 3.5.2 was egter vir hom uitdagend. Hier moes ander maniere waarop besighede tyd en moeite kan bydra om die welstand van werknemers te bevorder, beskryf word. Hy kon dit wel beantwoord.
Loraine Jonker, wat besigheidstudies by dié skool onderrig, sê dit was 'n baie gebalanseerde en goeie vraestel.
"Daar was genoeg vrae vir die kind wat sukkel om deur te kom en dan 'n paar uitdagings vir die slimmer kind om 'n bietjie te dink. Ek is baie bly. Dit was 'n lekker vraestel."
Sy sê vraag 3 was 'n baie lekker vraag.
Vraag 2, oor besigheidsgeleenthede, en vraag 4 was volgens haar effens moeiliker.
"Vraag 2 se onderwerpe is moeiliker leerwerk, so dis oor die algemeen moeiliker as vraag 3 se werk.
"Albei langvrae (vrae 5 en 6) was heel billik. Albei vrae is gebalanseerd - die kinders behoort goeie punte te kry."
Jonker glo leerlinge sou vraag 5 makliker as vraag 6 kon beantwoord, aangesien dié werk reeds vanaf gr. 10 behandel word.
Vraag 6, oor die beoordeling van spanprestasie en konflikbestuur, onder besigheidsrolle, se werk word vanaf einde gr. 11 behandel, sê sy.
Volgens Jonker is haar leerlinge positief oor albei vraestelle.
"Dit maak hulle ook positief vir die res van die eksamen."

















