Matrieks

Geleentheid om netbal na hoër vlak te neem

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Amy Jacobs, wenner van die Kovsie-Alumni-trust se sportprys in die Matrikulant van die Jaar-kompetisie in 2022, vertel haar deelname aan die kompetisie van die Universiteit van die Vrystaat (UV), Netwerk24 en Volksblad het vir haar deure oopgemaak om netbal op 'n hoër vlak te speel.

Amy Jacobs sê haar studie aan Kovsies gee haar die geleentheid om haar netbal na nuwe hoogtes te neem. "Dit is baie meer professioneel as op skoolvlak en ons oefen ook baie harder." Foto: Verskaf
Amy Jacobs sê haar studie aan Kovsies gee haar die geleentheid om haar netbal na nuwe hoogtes te neem. "Dit is baie meer professioneel as op skoolvlak en ons oefen ook baie harder." Foto: Verskaf

Sedert sy op kampus geland het om optometrie te studeer het sy ook haar staal op die netbalbaan getoon en speel sy nou vir die Sonneblomme, die Vrystaat se tweede span.

Die span het onlangs in Polokwane aan die Telkom-netballiga deelgeneem en hier was dit vir haar besonder lekker om skouers te skuur met van netbal se groot spelers. "Dit was lekker om in die hysbak te klim saam met Protea-spelers!" Hoewel die span hier hul eerste drie wedstryde verloor het, is daar nog 13 wedstryde oor in die liga.

Amy het die spesiale prys vir haar prestasies in hamergooi en op die netbalbaan ontvang. Verlede jaar het sy goud by die Vrystaatse kampioenskappe en silwer by die nasionale byeenkoms verower.

Van gr. 8 tot gr. 12 het Amy vir die Vrystaat netbal gespeel en sy het slegs in 2020 weens die Covid-19-pandemie nie die provinsie verteenwoordig nie. In 2022 was sy aangewys as een van die 35 voorste netbalspelers in Suid-Afrika. Nie net was Amy kaptein van die skool se eerste span en die Vrystaatse skolespan nie, maar sy was ook hoofmeisie van die Hoërskool Fichardtpark.

Reeds vroeg in die jaar het Amy iets nuuts oor haarself uitgevind. "Ek sien myself as iemand wat nie maklik met nuwe mense kan sosialiseer nie, maar nou het ek agtergekom ek kán dit doen. Ek kán uit my gemaksone klim."

Die prysgeld in die Matrikulant van die Jaar-kompetisie was 'n welkome finansiële inspuiting, maar dit is die mede-finaliste en chaperones (2021 se finaliste) wat sy tydens die eindronde leer ken het wat haar aankoms op kampus minder vreemd gemaak het.

Skryf nou in

Veelsydige matrikulante wat akademies presteer, betrokke is by kultuur, sport en leierskap by hul skole, en wat beoog om in 2024 heeltyds aan die UV te studeer, kan hulle inskryf.

Matrikulante kan hulself inskryf of hul skool kan hulle inskryf. Die skoolhoof se handtekening en die skool se stempel moet op die vorm aangebring word.

Alle inskrywings word volgens vaste kriteria beoordeel en 25 semifinaliste word aangewys. Altesaam 14 finaliste, wat uit die 25 gekies word, neem aan die Matrikulant van die Jaar-eindronde van 9 tot 11 Oktober in Bloemfontein deel.

Die wenner en 13 finaliste ontvang prysgeld van die borge Kovsie Alumni-trust, Mazars, Absa en Pick n Pay Preller Walk, beurse van UV Studentewerwingsdienste, gesken­ke ter waarde van R10 000, en gaan na die eindronde-geleentheid in Bloemfontein.

Die ander 11 semifinaliste ontvang prysgeld van Kovsie Alumni-trust en beurse van UV Studentewerwing.

Inskrywings moet die UV voor of op Vrydag 4 Augustus bereik. Vir inskryfvorms, stuur e-pos na Linda Greyling by greylinl@ufs.ac.za.

Siska Martin

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM