Die matrieks by Reddam House Waterfall in Midrand het Donderdag 'n heldeontvangs gekry toe hulle hul matriekuitslae kom afhaal het.
Die hele skool se leerlinge het in twee lang rye voor die skool op hulle gestaan en wag.
Leerlinge in die laer grade het met hul handjies en arms uitgestrek gestaan om 'n matriek so half en half te vatvyf, terwyl die res hul seniors met groot glimlagte ingewag het.

Soos die matrieks aangekom het, het hulle die wagtende hande in hulle s'n geneem. Met hul terugkeer het hulle weer hande geneem.
Amy Slow (18) het dié gulle ontvangs terdeë geniet en het hande aangeraak met elkeen wat aan haar kant gestaan het.
Tasvi Maharaj (18) het Amy se voorbeeld gevolg.
Dié skool se matrieks van 2023 het beter gevaar as dié in 2022. Die getal onderskeidings was meer en die algehele gemiddelde van die matrieks het ook verbeter.

Aurello Pillay, met agt onderskeidings en 'n gemiddeld van 91%, is as dié onafhanklike hoërskool se topmatrikulant aangewys.
Aurello het ook 99% in wiskundige geletterdheid behaal.
Hy erken dit was baie harde werk en hy het ekstra werk ingesit, maar hy is baie ingenome met die punte wat hy behaal het.
Sy gunstelingvakke was beslis wiskundige geletterdheid, geskiedenis en gevorderde Engels, sê hy.

Aurello gaan vanjaar LLB aan die Universiteit van Pretoria studeer, waar hy veral op kwessies oor maatskaplike geregtigheid, geslagsgeweld en die LGBTQ-gemeenskap wil fokus.
Milan Govender, Warona Matjila en Abigail Browne het elkeen 93% vir geskiedenis in hul matriekjaar gekry. Hulle is met dié punt onder die top-1% van die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) in die vak.
Milan sê geskiedenis was haar gunstelingvak. Sy sê haar passievolle geskiedenisonderwyser, Tracy Harvey, het haar liefde daarvoor gekweek.

"Sy is absoluut briljant. Sy was ons ondersteuningstelsel."
Milan gaan vanjaar politiek en internasionale betrekkinge by Tukkies studeer, waar sy steeds haar gunstelingvak gaan inspan.
Harvey sê die klas van 2023 lê haar veral na aan die hart.
"Wat ek doen, is nie 'n werk nie, dit is wie ek is."

Owethu Tobela sê hy is baie bly hy is klaar met skool. Hy gaan veral sy vriende mis, wat hy waarskynlik Donderdag vir die laaste keer gesien het toe hy sy uitslae gaan haal het by sy ou skool, waar hy 'n leerling was vanaf sesjarige ouderdom.
"Ek is baie bly ek is klaar. Ek het basies my hele lewe hier deurgebring."
Owethu sien uit na sy nuwe hoofstuk, wanneer hy vanjaar 'n oorbruggingsjaar gaan doen voordat hy in 2025 in Alberta, Kanada, meganiese ingenieurswese gaan studeer. Hy sê hy sien die meeste uit na die koue weer daar.
Sy pa, Mandla, en jonger sussie, Uthandile "Thale" (15), wat vanjaar in gr. 10 aan dieselfde skool is, was saam met hom om sy uitslae te kom haal.

Thale sê dis 'n vreemde gedagte om te dink dat Owethu nie meer saam met haar in die skool gaan wees nie.
"Hy was net nog altyd daar. Ek is baie trots op hom."
Samantha Broodryk, graadhoof, sê sy is baie trots op dié matrikulante.
"Hulle was 'n fenomenale groep. Ek het sedert gr. 7 gesien hoe hulle grootword. My hart is baie bly."




















