Toe dokters in 2014 voorspel het dat Henno Smit vir die res van sy lewe aan 'n rolstoel gekluister sou wees, het hulle nie rekening gehou met Henno se veggees nie.
Op 4 Februarie is die negejarige Henno se C4-werwel in sy nek in 'n fietsongeluk vergruis.

Henno onthou daardie dag soos gister. Hy sê dat hy van sy ouerhuis se stoep af wou "wheelie" en op die gras land. "Dit was regtig 'n fratsongeluk, ek het net verkeerd geval. Toe ek die grond tref het ek net sterretjies gesien," sê hy.
"En toe voel ek my nek is baie seer."
Dokters het nie goeie nuus vir hom gehad het nie. "Maar ek het dadelik besluit ek sal weer loop. Ek het nie vir een oomblik getwyfel nie."
Henno sê hy en sy ouers het " 'n uitdagende pad" begin stap met sy rehabilitasieproses.
Drie jaar ná die ongeluk het Henno weer begin loop.
Hy kon verlede jaar self na sy matriekeindeksamenlokaal stap. "Al moet ek 'n kruk gebruik." Hy kan ook self skryf, hoewel dit uitdagend is omdat hy nie die gebruik van sy hande ten volle herwin het nie.
"Ek het geleer om uit my skouer te skryf en nie uit my vingers en hande soos die meeste mense nie."

Henno se ouers het in 2021, in sy Gr. 11-jaar, na die Oos-Vrystaat verhuis. Henno het gekies om in eMkhondo (voorheen Piet Retief) aan te bly om sy skoolloopbaan te voltooi. Henno het in die koshuis ingetrek en 'n versorger het hom daagliks gehelp om te stort en aan te trek.
Henno het vir sy span skaak gespeel, op die skool se uitvoerende raad gedien en altyd langs die sportveld gesit om sy vriende te ondersteun.
Vandag spog Henno matriek met universiteitsvrystelling.
Die Hoërskool Piet Retief het hom ook vereer met die meriete-trofee. Dit word slegs aan leerlinge toegeken wat ten spyte van fisieke uitdagings, steeds elke dag volhard. In 'n video wat die skool op YouTube geplaas het, kan gesien word hoe 'n saal vol mense vir Henno 'n staande ovasie gee terwyl hy trots die trofee in ontvangs neem.
Hy hoop om vanjaar met sy studie in landbou-ekonomie en risikobestuur aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom te begin.
"Ek het lankal vrede gemaak met my situasie. Ek weet daar is sekere dinge wat ek nie kan doen nie, sekere beroepe wat ek nie kan beoefen nie. Ek hoop wel dat ek eendag kan boer."

















