Hoera vir 8 A’s vir slimkoppe van Bloem

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Johannes Deysel van die Hoërskool Jim Fouché kan nie wag om met sy studie in aktuariële wetenskappe aan die Universiteit van Kaapstad te begin nie.
Johannes Deysel van die Hoërskool Jim Fouché kan nie wag om met sy studie in aktuariële wetenskappe aan die Universiteit van Kaapstad te begin nie. (Foto: Verskaf)

Vir twee Bloemfonteinse matrikulante was 2025 ’n jaar van lang dae, ’n volgepakte kalender en groot drome – en elkeen moes op sy eie manier die balans tussen akademie, leierskap en buitemuurse aktiwiteite vind.

Johannes Deysel van die Hoërskool Jim Fouché in Bloemfontein sê hy het reeds Maandag ’n lekker verrassing gekry toe hy verneem hy het 85% behaal vir die IEB-vak wiskunde verdere studie.

“Dit was die eerste vraestel wat ek afgelê het en ek was nogal bekommerd. Maar toe ek daardie uitslae kry, was ek baie opgewonde oor wat nog wag met my Nasionale Seniorsertifikaat-eksamen,” sê hy.

Johannes het onderskeidings in Afrikaans huistaal, Engels huistaal, wiskunde, lewensoriëntering, rekeningkunde, ekonomie, inligtingstegnologie en fisiese wetenskappe behaal.

“Ek is opgewonde vir wat nou voorlê. Ek het nogal ’n besige matriekjaar agter die rug,” sê hy.

Hy was verlede jaar die hoofseun van die Hoërskool Jim Fouché, redakteur van die skoolkoerant, Die Oester, en het aan verskeie debat- en redenaarskompetisies deelgeneem.

Johannes beplan om aktuariële wetenskappe aan die Universiteit van Kaapstad te studeer.

“Ek was einde 2025 vir die eerste keer in die Kaap, en daardie kampus het die meeste na my geroep. Ek is die eerste een in my hele familie wat gaan studeer, en ek is baie opgewonde,” sê hy.

Hy sê sy ouers, Charlene en Jaco, staan bankvas agter hom.

Hoera vir agt A's! Christiaan Kotzé van die Hoërskool Fichardtpark.
Hoera vir agt A's! Christiaan Kotzé van die Hoërskool Fichardtpark. (Foto: Verskaf)

Nog ’n Bloemfonteinse leerling wat uitgeblink het, is Christiaan Kotzé van die Hoërskool Fichardtpark wat agt onderskeidings behaal het, in Afrikaans huistaal, Engels eerste addisionele taal, wiskunde, lewensoriëntering, rekeningkunde, lewenswetenskappe, musiek en fisiese wetenskappe.

“Ek was effens gestres oor musiek, maar ek is bly my harde werk het vrugte afgewerp,” sê hy.

Christiaan beplan om vanjaar medies aan die Universiteit van die Vrystaat te studeer.

Hy sê die grootste uitdaging van 2025 was om alles te balanseer. Hy was ’n lid van die skool se leerlingraad, voorsitter van die skool se VCSV, ’n lid van die skoolkoor en het aan skyfskiet deelgeneem.

“Ek het baie gebid – dit is wat my deur die jaar gedra het. My ma, Yolandi, en my pa, Eduan, het my ook baie ondersteun,” sê hy.

Volgens die Vrystaatse departement van onderwys se voorlopige uitslae is Deysel en Kotzé twee van slegs 10 leerlinge in die provinsie wat agt onderskeidings in die 2025 Nasionale Seniorsertifikaateksamen behaal het.

SPELETJIES VANDAG

CTA