Matrieks

Jeanique lief vir dié perdesport

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Op die rug van haar perd, is waar sy tuis voel.

Jeanique Roodman, 'n voormalige matriekleerling aan die Hoërskool Montana in die noorde van Pretoria, vertel juis van waar sy op die rug van haar perd Suzie sit, dat sy nie anders kon as om in haar pa se polocrosse-voetspore te volg nie.

Jeanique Roodman en haar geliefde perd Suzie. Saam speel hulle polocrosse. Foto: Deaan Vivier
Jeanique Roodman en haar geliefde perd Suzie. Saam speel hulle polocrosse. Foto: Deaan Vivier

Polocrosse?

Polocrosse is 'n kombinasie van polo en lacrosse. Dit is in Australië ná die Tweede Wêreldoorlog tot moderne perdesport ontwikkel nadat dit eers in die 1930's in Engeland in 'n binnenshuise arena gespeel en toe ontwerp is om studente se ryvaardighede te verbeter.

Anders as polo, word spelers slegs toegelaat om dié sport op een perd te speel.

Die spel het so ontwikkel dat daar nou meer as 6 000 spelers wêreldwyd is, met internasionale kompetisies wat gereeld op senior, junior en veteraanvlakke gehou word.

Jeanique se pa, Ryk, is 'n veteraan-Springbok-polocrosse-speler.

"Hy het begin toe hy omtrent 16 jaar oud was," sê sy met trots hoorbaar in haar stem.

Nes haar pa het Jeanique op die jong ouderdom van 14 jaar begin polocrosse speel en is verlede jaar vir die Springbok o.21-polocrosse-span gekies.

Dié Springbokspan het Zimbabwe en Zambië in Julie verlede jaar tydens die internasionale polocrosse-reeks in Underberg, KwaZulu-Natal, geklop en so ook dié reeks gewen.

Haar ma, René Kleynhans, sê Jeanique het haar pa se natuurlike talent vir dié sport geërf.

Sy sê dis 'n onbekende sport veral in Suid-Afrika en word selfs volgens haar ook as perdesport onderskat.

Vir Jeanique is die mense betrokke by polocrosse die lekkerste van dié sport, maar "dit gaan ook oor die perde".

Sy het drie perde van haar eie. Suzie, 'n 19-jarige volbloedmerrie, is haar gunsteling.

"Ek is baie lief vir hulle almal."

Jeanique het matriek met universiteitsvrystelling geslaag en gaan waarskynlik vanjaar BCom-regte aan die Universiteit Stellenbosch studeer.

Sy het onderskeidings in Afrikaans huistaal, Engels eerste addisionele taal, lewens­oriëntering en geskiedenis verwerf. Dit sal haar toelaat om by haar pa, wat oor sy eie perdestalle beskik, te gaan bly, want sy wil beslis met polocrosse voortgaan.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM