Matrieks

Kaapse skuif vorm jong leier se pad

Debrah Schmidt (18) tydens haar matriekafskeid.
Debrah Schmidt (18) tydens haar matriekafskeid. (Foto: Verskaf)

Die groot trek vanaf Gauteng na Kaapstad het vir Debrah Schmidt, ’n matriekleerling aan die Hoërskool Strand, ’n onbekende wêreld oopgemaak.

Sy was in gr. 10 toe haar ouers die voorstel maak dat hulle trek. Aanvanklik het sy gedink haar pa bedoel na ’n kleiner huis of ’n nuwe woonbuurt.

“Nooit in my wildste drome het ek gedink dit sou na ’n ander provinsie wees nie.

“Ek was skepties. Ek het gedink dit gaan my hele wêreld onderstebo draai,” vertel sy.

Min het sy geweet dat sy teen die einde van gr. 11 as hoofdogter vir 2025 aangewys sou word en dat sy haar matriekjaar as dux-leerling sou afsluit.

Die laaste Schmidt – en die druk van ’n nalatenskap

Voor die trek het Debrah saam met haar ma, Thea, en pa, Japie, in Springs gewoon en skoolgegaan by die Hugenote Hoërskool.

Beide haar susters, Tiané en Anje, was die onderhoofdogters, en haar broer, Daniël, was destyds hoofseun.

“Dit was asof my pad alreeds gebaan was, asof ek in die voetspore moes loop wat my sibbe agtergelaat het,” sê sy.

“My ouers het ons nooit teen mekaar opgeweeg nie, maar op skool het onderwysers my geken as ‘die laaste Schmidt’.”

Die verhuising het haar perspektief verander: Sy wou bewys dat sy eerstens Debrah is – nie net ’n Schmidt nie.

Dit was al lank haar ouers se droom om langs die see af te tree. Hulle het vir haar die opsie gegee om in Gauteng agter te bly.

“Ek kon by enigeen van my sibbe gaan woon, maar ek was gereed vir ’n nuwe hoofstuk,” sê sy trots.

Maar die opgewondenheid was kortstondig.

Debrah Schmidt saam met haar ouers, Japie en Thea.
Debrah Schmidt saam met haar ouers, Japie en Thea. (Foto: Verskaf)

Aanpassing in ’n nuwe omgewing

Kort nadat hulle in Gordonsbaai ingetrek het, het Debrah besef die kulturele diversiteit is heeltemal anders as waaraan sy gewoond was.

“Ek het gedink ek gaan nooit aanpas nie,” sê sy.

Die Hoërskool Strand het vreemd en groot gevoel.

“Toe ek die eerste dag daar instap, het ek verlore gevoel – heeltemal alleen in ’n nuwe plek, by ’n nuwe skool, sonder enige vriende,” vertel sy.

Later die middag, toe sy by die skoolhek uitstap en in haar ma se motor klim, het sy in trane uitgebars.

“Dit het gevoel asof almal al klaar hul plek het – en ek nie,” sê sy.

Die skoolhoof, mnr. Danie Malan, het haar egter vinnig gerusgestel.

“Hy het gesê ek moet nie te hard wees op myself nie, dat dit een of twee kwartale gaan neem om aan te pas – en hy was reg.”

Nog voordat sy haar eerste vriende kon maak, skeur Debrah haar Achillespees tydens netbalproewe.

“Dit was in die laaste minuut van die laaste ronde . . . Ek het sommer geweet dit gaan moeilik wees.”

Die besering het tot ’n operasie gelei en sy was vir twee weke uit die skool.

“Ek het gevoel ek is agter en almal beweeg vooruit,” sê sy.

Debrah Schmidt saam met haar vriende tydens die skool se Valentynsdag sokkie in 2025. V.l.n.r Marné Meyer, Deneucha Frieslaar, Joané Rall, Jana van Vuuren EN Mia Myburgh.
Debrah Schmidt saam met haar vriende tydens die skool se Valentynsdag sokkie in 2025. V.l.n.r Marné Meyer, Deneucha Frieslaar, Joané Rall, Jana van Vuuren EN Mia Myburgh. (Foto: Verskaf)

Geleidelike groei – en nuwe vriendskappe

Maar geleidelik het dinge begin verander. Teen die middel van die tweede kwartaal het sy die skool se uitleg geken en het sy vriende begin maak.

Sy het twee hegte vriendskappe gesmee – met Marné Meyer en Joane Rall.

“Ek wou nog altyd ’n leier wees, maar nie in iemand anders se skadu nie,” sê sy.

Debrah se leierseienskappe het vinnig ontvou toe sy verkies is om op die leerlingraad te dien.

“Ek was skepties. Ek het gedink niemand sal vir my stem nie, want hulle ken my nie. Maar my pa het my aangemoedig,” vertel sy.

Toe sy verkies word, het sy onthou waarom sy Kaap toe gekom het – om haar eie pad te baan.

“Dit was die eerste keer wat ek gevoel het ek hoort daar,” sê sy.

Sy het haar rol ernstig opgeneem en haarself as waardig bewys.

Debrah Schmidt en haar kêrel Morné Meyer tydens die skool se matriekafskeid.
Debrah Schmidt en haar kêrel Morné Meyer tydens die skool se matriekafskeid. (Foto: Verskaf)

Die hoogtepunt: Hoofdogter van 2025

Alhoewel sy altyd daarna gestrewe het, het dit haar steeds geskok toe sy as hoofdogter vir 2025 aangewys is.

“Diep in my hart het ek nie gedink dit gaan gebeur nie. Dit was soos ’n wens op ’n ster waarvoor ek eindeloos gewerk het,” vertel sy.

As hoofdogter het sy funksies georganiseer, roosters uitgewerk en oriëntering gelei.

“Ek het plek-plek moeg geword, maar ek het geweet mense vertrou my – en dit het my sterker gemaak.”

Benewens haar rol as top-leerling en hoofdogter, was sy ook die hoofredakteur van die skoolkoerant, Die Suidooster.

“Ek was ook ’n kringleier by FUEL, ons Christelike vereniging,” vertel sy.

“Om leiding te neem is deel van my identiteit. Dit is wat ek weet hoe om te doen,” sê sy met selfvertroue.

Die pad vorentoe

Debrah beplan om vanjaar ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch te studeer – die begin van nóg ’n nuwe hoofstuk wat sy hierdie keer met selfvertroue instap.

CTA