Matriekleerlinge was Maandag optimisties oor die eindeksamen nadat hulle hul eerste vraestel, Engels huistaal en Engels eerste addisionele taal se taalvraestelle, geskryf het.
Leerlinge van die Hoërskool Brackenfell het die vraestel gou-gou kafgedraf en gesê die begin van die eksamen was darem nie 'n riller nie.
Chrismari Joubert (18) het Engels as eerste addisionele taal geskryf en sê dit was baie beter as wat sy vir 'n eerste vraestel verwag het. "Ek was baie op my senuwees, maar dit was oukei. Dit het net soos 'n gewone toets gevoel. Om voor te berei het ek ou vraestelle uitgewerk, en ek moet sê ons onderwysers het baie gehelp deur dit vir ons te gee.
"Ek sal almal aanraai om dit te doen - die ou vraestelle is beslis die roete om te volg. Engels en Afrikaans is van my gunstelingvakke. Ek gaan volgende jaar regte studeer, so ek gaan dit nodig hê."
Sy sê haar rooster vir die volgende week is baie vol, met ekonomie, Afrikaans en wiskunde wat voorlê.

Estian Meyer (19) het Engels as eerste addisionele taal geskryf en sê hy het Sondagaand voor die tyd "deur 'n paar toetse van laasjaar gedraf".
"Ek dink nie jy kon vandag eintlik 'n eksamen noem nie. Dit was maklik, eenvoudig. Ek het niks probleme gehad nie. Ek het vinnig genoeg klaargekry, so ek kon vroeg gaan ook."

Anthony Oosthuizen (18) het Engels as huistaal geskryf en sê hy het die vraestel "regtig baie geniet".
"Dit was 'n goeie onderwerp en al die vrae was lekker en genotvol om te beantwoord.
"Daar was natuurlik 'n paar moeiliker vrae, maar oor die algemeen was die vrae maklik. Die onderwerp vir die opsomming was interessant, en ek het dit vir 'n slag geniet. Ek sukkel gewoonlik met opsommings."
Hy sê een van die onderwerpe van die leesstukke was hoe intimiteit deesdae weens tegnologie ingeboet word.

Aiden Muller (18) het Engels as huistaal geskryf en sê die vrae was redelik maklik. "Sommige vrae het uitdagend gelyk, maar jy moes maar net die begripstoets mooi deurlees. Dit was vir my die moeilikste deel in die vraestel.
"Ek het ongeveer 'n uur en 'n half geskryf, waarvan ek vyf minute gebruik het om myself te oriënteer. Die formaat het baie dieselfde gelyk soos in vorige vraestelle wat ons al geskryf het, so ek het gemakliker gevoel."




















