Matrieks

Van teleurstelling tot topprestasie: Leierskap is sy nalatenskap

Marlu Odendaal (18) is die vierde hoofleier van die Hoërskool Stellenberg
Marlu Odendaal (18) is die vierde hoofleier van die Hoërskool Stellenberg (Foto: Verskaf)

Toe Marlu Odendaal aan die begin van 2025 as hoofleier van die Hoërskool Stellenberg aangewys is, het dit die hoogtepunt van ’n leierskapsreis geword wat reeds op laerskool begin het.

Teen die einde van sy matriekjaar laat die 18-jarige ’n nalatenskap van akademiese uitnemendheid, sportleierskap, kulturele betrokkenheid en geloofsgedrewe diens agter.

Sy leierskapsprestasies het ’n merkwaardige reis gevorm. Vyf jaar gelede was hy ook die hoofseun van die Laerskool Eversdal.

Dis juis daarom dat dit hom soos ’n vuis in die maag getref het toe hy nie aanvanklik verkies is om deel te wees van die verkiesingsraad van leerlinge nie.

“Ek het later vrede gevind in die wete dat die Here ’n plan vir elkeen van ons het,” vertel hy.

Daardie nederigheid en volharding het uiteindelik tot sy verkiesing as vierde hoofleier van Stellenberg gelei.

Voorbeeld bo woorde

As hoofleier het hy geweet hy moet ’n goeie voorbeeld stel, een waarna die res van die leerlinge kon opkyk en probeer om na te strewe.

“Ek het altyd hard gewerk en my beste ingesit in alles wat ek aangepak het,” vertel hy.

Akademiese rekords wat boekdele spreek

Marlu se akademiese prestasies spreek boekdele. Hy het vir drie opeenvolgende jaar die eerste posisie in sy graad behaal en twee keer die veelsydigste-leerling-toekenning ontvang.

“Do your best, then God will do the rest,” sê hy.

Dié filosofie het hom gehelp om konsekwent bo-aan sy klas te bly terwyl hy terselfdertyd in sport en kultuur uitgeblink het.

Hy was kaptein in rugby, krieket en gholf.

“Elke sport het sy eie uitdagings, maar gholf het vir my die meeste vreugde gebring,” vertel hy.

Sy vermoë om tussen die fisieke uitdagings van rugby en die strategiese spel van krieket te skakel, terwyl hy ook die individuele dissipline van gholf bemeester, getuig van sy aanpasbaarheid, meen Marlu.

Marlu by die ATKV Nasionale Finaal-redenaarskompetisie by Goudini Spa, Worcester.
Marlu by die ATKV Nasionale Finaal-redenaarskompetisie by Goudini Spa, Worcester. (Foto: Verskaf)

Waagstuk op die verhoog

Kultureel het hy ook presteer.

Sy rol as dominee in die musiekspel Loslit was ’n waagstuk, aangesien rolspel en dans nie sy sterk punte was nie. “Ek het besef jy kan ongelooflike dinge bereik as jy net bereid is om die kans te vat,” sê hy.

Agt jaar van marimbaspel en sy aktiewe lidmaatskap van Stellenberg se koor voeg nog meer dimensies by sy kulturele prestasies.

In sy vrye tyd het Marlu verlede jaar gereeld gemeenskapsdiens gedoen. Hy het vrywilliglik gewerk by ’n informele nedersetting in Mpumalanga waar hy kinders se vaardighede ontwikkel en vir hulle kos en speelgoed voorsien het.

Matriek het te veel van sy tyd geëis, dis hoekom hy hierdie jaar moes stop. “Dit was ’n ongelooflike, verrykende, nederige ervaring,” sê hy.

Die 18-jarige Marlu Odendaal tydens ’n fotosessie wat geneem is op die dag van sy matriekafskeid.
Die 18-jarige Marlu Odendaal tydens ’n fotosessie wat geneem is op die dag van sy matriekafskeid. (Foto: Verskaf)

’n Steunpilaar by die huis

Hy skryf die basis van sy prestasies toe aan sy gesin. Sy pa Jaques, is ’n prokureur, sy ma, Mariné, het haar eie besigheid.

Hy is ook dankbaar vir sy suster, Milané, ’n mediese student aan die Universiteit Stellenbosch.

“Ek het nog nooit gevoel asof ek enige iets alleen hoef aan te pak nie,” beklemtoon hy.

Marlu sê sy geloof vorm die ruggraat van al sy prestasies.

Handelinge 20:24 herinner hom dat prestasies betekenisloos is sonder om die goeie werk van die Here te doen.

“Ek hoop ek kan deur my voorbeeld ander mense na Jesus toe lei,” sê Marlu.

Marlu tydens ’n repetisie van die skool se musiekspel waarin hy die rol van ’n dominee vertolk het.
Marlu tydens ’n repetisie van die skool se musiekspel waarin hy die rol van ’n dominee vertolk het. (Foto: Verskaf)

Toekoms met ’n doel

Met sy matriekjaar agter die rug, is Marlu se oë gevestig op sy toekoms.

Hy beplan om vanjaar BCom (regte) aan die Universiteit Stellenbosch te studeer.

“Ek wil baie graag mense help wat nie vir hulself kan opstaan nie.”

Marlu se jaar by Stellenberg sal onthou word vir ’n kombinasie van akademiese uitnemendheid, sportleierskap, kulturele deelname en gemeenskapsdiens. Met geloof as sy anker en ’n gesin wat hom ondersteun, het hy bewys dat veelsydige prestasies moontlik is wanneer toewyding en doelgerigtheid saamwerk.

“Ek probeer elke dag die Here se wil uitleef en mense dien.”

CTA