Hoewel haar naam gereeld in die topvier van haar matriekklas verskyn het, het dit vir Mareli Jordaan, ’n matriekleerling van die Hoërskool Bonnievale, begin voel of haar liggaam teen haar werk.
Sy het akademies uitmuntend gevaar – in gr. 11 was sy elke kwartaal in die top-10 en in matriek het sy twee kwartale lank vierde gestaan. Maar toe tref angs haar onverwags: borspyn, floute en aanvalle wat haar drie keer in die hospitaal laat beland het.
“Dis asof ek nie my eie gedagtes kon beheer nie,” sê sy. “Dit het gevoel asof my liggaam teen my werk; ek het so magteloos en moedeloos gevoel.”
Geloof word haar anker
Die skielike angsaanvalle het haar gedwing om diep te kyk na wat binne haar aangaan.
“My geloof het my deur hierdie tyd gedra. God het my anker geword.”
Wanneer sy aanbiddingsmusiek geluister het, het sy ’n vrede gevind wat sy lank nie geken het nie.
“Geen pil of mens kon my so rustig maak soos God nie. Hy trek my deur elke sterk storm,” sê sy.
Die aanvalle het nie oornag ontstaan nie – dit was die resultaat van jare se trauma.
Vir Mareli was skool nooit net ’n plek van akademie nie. Dit was die terrein van aanpassings, oorgange en die konstante behoefte om haarself weer op te bou.
Haar ouers, Niel en Lize, is geskei toe sy nog baie klein was.
Sy en haar broer, Johan, was skaars 10 en 11 toe hulle koshuis toe moes gaan omdat hul dorp nie ’n goeie laerskool gehad het nie.
Dit was net die begin. Oor die jare het sy in vier verskillende laerskole beland – elke keer moes sy nuut begin.

Kinderjare vol selftwyfel
Mareli was oorgewig op laerskool, iets wat haar selfbeeld seer gemaak het en nuwe omgewings selfs moeiliker.
“Jy moet nuwe maats vind, nuwe roetines aanleer – dit maak jou sterk, maar dit vat ook iets van ’n kind. Elke keer word jy bietjie minder van wie jy was,” verduidelik sy.
Een van haar grootste terugslae was in 2018 toe haar pa tronk toe is.
“Dis ’n seer waaroor ek nie kan praat nie,” sê sy.
Dit het egter nooit haar liefde vir hom verander nie. Hy het gereeld van die tronk gebel en hul verhouding het bly staan.
“Ons het vasgehou aan die goeie. Ek het selfs drome gehad waarin die Here my gewys het dat my pa sou terugkom. Dit het my hoop gegee.”
Hy is in 2021 vrygelaat.
Verander nie van koers
Ten spyte van die swaarkry het Mareli hard bly werk.
In 2020, aan die einde van haar gr. 7-jaar, het haar deursettingsvermoë uiteindelik vrugte afgewerp: sy het ’n vyfjaarbeurs aan die Hoërskool De Villiers Graaff en die koshuis ontvang.
Sy beskryf haar DVG-jare as waardevol en gevul met vriendskappe wat steeds hou. In gr. 10 is sy as ’n lid van die VRL verkies – ’n rol wat deur die graadleerlinge self toegeken word.
Al het sy gelukkig gelyk, het koshuislewe sy eie swaar gehad.
“Niks sleg het gebeur nie – ek het net nie daarvan gehou om so ver van my huis af te wees nie,” sê sy.
Toe haar ma met ’n plaasboer in Bonnievale trou, het Mareli terugtrek Bonnievale toe – ’n skuif wat haar weer nader aan haar familie gebring het.
Maar selfs dit het aanpassings geverg: om haar ma saam met iemand anders te sien, om hom te aanvaar, om weer ’n nuwe gesinseenheid te vorm.
Ten spyte van alles het sy in haar hoërskooljare voluit geleef en presteer. Sy het in HSB se eerste én tweede netbalspanne gespeel, aan talle skoolaktiwiteite deelgeneem en haarself as leier gevestig.
In gr. 11 word sy eerste prinses in Mej. HSB; in 2024 haal sy die top-10 van Huisgenoot se Mej. Tiener-kompetisie – ’n landwye prestasie. In 2025 word sy as Mej. HSB gekroon en sy was ’n sjampanjenooi by Interskole.

’n Mooi toekoms wat wink
Sy is besig met ’n drie maande lange lugwaardin-kursus by Future Flyers Academy – ’n beroep wat perfek pas by iemand wat al dikwels kalm moes bly onder druk.
“Ek wil hê mense moet veilig voel,” sê sy. “Ek wil hê hulle moet voel hulle word raakgesien.”
Oor vyf jaar sien sy haarself internasionaal vlieg. Londen, Amerika en Japan staan boaan haar wenslys.












