Matrieks

Matrieks ‘moet soos BBP’s behandel word’ tydens eindeksamen

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Matrieks in die Wes-Kaap moet die volgende paar weke soos die BBP's van die provinsie behandel word, het die LUR vir onderwys Maandag gesê.

"Ons wil nie sien dat hul toekoms in gedrang kom weens selfsugtige optrede nie," sê David Maynier.

"Ons kan eenvoudig geen ontwrigting bekostig nie. Hoewel ons departement elke jaar gebeurlikheidsplanne het, het ontwrigtings soos stakings en betogings 'n nadelige invloed op ons kandidate. Matriek is stresvol genoeg. Leerlinge moenie nog bekommerd wees oor of hulle veilig hy hul eksamen gaan uitkom nie.

"Ons is ook bedag op die impak van beurtkrag, en verseker ons matrieks dat ons die nodige voorsorgmaatreëls getref het vir eksamens om voort te gaan in die geval van beplande en onbeplande kragonderbrekings.

"Aan ons matrieks: Die tyd is nou. Hou kop en werk tot met jou laaste vraestel."

Altesaam 76 903 kandidate sal vanjaar die nasionale seniorsertifikaat-eksamen in die Wes-Kaap skryf.

Die praktiese eksamen vind vandeesweek plaas met 11 731 kandidate wat Dinsdag rekenaartoepassingstegnologie en 1 000 wat Woensdag inligtingstegnologie aflê.

"Die geskrewe eksamen begin op 30 Oktober met 66 831 kandidate wat Engels huistaal, eerste addisionele taal of tweede addisionele taal in die oggend skryf.

"123 vraestelle sal tydens die eksamenperiode, wat op 5 Desember met landboutegnologie eindig, geskryf word.

"Die nasienwerk sal ná die laaste eksamen begin en 928 000 antwoordstelle sal deur 4 158 mense nagesien word. Dit sal deur 1 046 mense gekontroleer word.

"Dis 'n reusetaak en ons waardeer die moeite wat ons amptenare en skole gedoen het om vir die eksamen voor te berei," sê Maynier.

Die nasionale uitslae word op 18 Januarie aangekondig en matrieks sal op 19 Januarie hul punte by skole kan gaan haal.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM