Matrieks

Van klaskamer tot tennisbaan: Marinus Toerien spog met sleutel tot sukses

Marinus Toerien (18) het verlede jaar bewys dat mens met goeie beplanning en deursettingsvermoë ’n goed gebalanseerde lewe kan lei.
Marinus Toerien (18) het verlede jaar bewys dat mens met goeie beplanning en deursettingsvermoë ’n goed gebalanseerde lewe kan lei. (Foto: Verskaf)

Waar baie matrieks sukkel om die eise van hul finale skooljaar te balanseer, het Marinus Toerien van die Hoërskool Stellenbosch gewys dat akademiese uitnemendheid, sportdeelname en gemeenskapsdiens wel hand aan hand kan loop.

“Ek het altyd probeer om my beste te gee en elke geleentheid voluit te benut,” sê Marinus, wat verlede jaar gematrikuleer het.

Ten spyte van die uitdagings gedurende die jaar het hy volgehou en dit uiteindelik afgesluit met ’n rits prestasies.

Marinus Toerien tydens ’n tenniswedstryd waarin hy die skool verteenwoordig het.
Marinus Toerien tydens ’n tenniswedstryd waarin hy die skool verteenwoordig het. (Foto: Verskaf/Joan Ward)

‘Jy onthou beter as jy verstaan’

Die jong man het deur sy skoolloopbaan eerder op begrip as blote memorisering gefokus.

Hy het Afrikaanse en Engelse huistaal, wiskunde, addisionele wiskunde, biologie, rekeningkunde en liggaamlike opvoeding gedoen. Addisionele wiskunde was sy sterkste vak.

“Ek glo jy onthou beter as jy verstaan,” het hy beklemtoon.

Hierdie benadering het tot van sy grootste suksesse gelei. Marinus het derde in die land vir addisionele wiskunde geëindig – ’n prestasie wat selfs vir hom verras het. “Dit het my laat besef dat al die ure se oefen en konsentrasie die moeite werd was.

“Sukses kom nie altyd maklik nie, maar volharding word altyd beloon,” sê hy.

Benewens hierdie prestasie is Toerien vereer met die Investec Out of The Ordinary-prys.

“Ek is ook vir wiskunde, rekeningkunde en fisiese wetenskap vereer.”

Marinus het deur sy matriekjaar net soveel uitgeblink in sport as in akademie. Hy het drie jaar lank in die eerste tennisspan gespeel en aan toernooie in Cradock, Nelspruit en Johannesburg deelgeneem.

“Ek speel vir die genot, nie net vir die oorwinnings nie,” sê hy.

Tennis het hom ’n hele paar waardevolle lesse geleer. “Ek het geleer om te volhard, my tyd beter te bestuur, hoe om vreugde te vind, nuwe vriende maak op die baan en hoe om uitdagers te hanteer.”

Marinus Toerien, wat verlede jaar aan die Hoërskool Stellenbosch gematrikuleer het.
Marinus Toerien, wat verlede jaar aan die Hoërskool Stellenbosch gematrikuleer het. (Foto: Verskaf)

’n Hart vir die gemeenskap

Marinus het in die skool se gemeenskapskomitee as voorsitter gedien. Daarbenewens het hy verskeie liefdadigheidsinisiatiewe help bestuur, waaronder Santa Shoebox Project, kosinsameling vir die Dierebeskermingsvereniging en fondsinsamelings vir die Smile Foundation.

“Ek glo dit is belangrik om terug te gee,” sê hy. “Dit laat ’n mens besef hoe bevoorreg jy is en hoe noodsaaklik dit is om ander te help.”

Marinus het ook sy kommunikasievaardighede geslyp deur die Toastmasters-program, waar hy tweede in die streekkompetisie geëindig het. “Dit het my gehelp om vinnig te dink en selfvertroue te bou – iets wat ook baie in die matriekraad gehelp het.”

Hoewel sy jaar vol prestasies was, erken hy dat dit nie sonder struikelblokke gekom het nie.

Tydbestuur was ’n konstante uitdaging.

“Party dae het dit gevoel asof daar net nie genoeg ure is nie,” sê hy. Sy geloof het hom egter geanker. “Ek glo God dra jou deur alles.”

Hy beskryf matriek as ’n jaar van persoonlike groei – ’n tyd waarin hy minder oor ander se opinies begin tob het en meer uit sy dop gekom het. “Jy groei deur deelname en deur nuwe ervarings.”

Drome vir die jare vorentoe

Marinus beplan om vanjaar sy studies in aktuariële wetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch voort te sit. Hy wil vaardighede ontwikkel wat hom sal help om by ’n wêreld wat vinnig verander aan te pas.

“Die lewe is kort. Jy moet nuwe dinge probeer en jou beste gee,” sê hy. Hy streef na sukses, maar ook na ’n lewe met balans en genoeg tyd om herinneringe te bou.

Vir huidige en toekomstige matrieks het hy eenvoudige raad: “Doen soveel jy kan, en geniet die jaar. Wees georganiseerd en weet wat vir jou toekoms belangrik is.

“ ’n Gebalanseerde lewe beteken leer, sport, rus en kultuur – alles in matigheid.”