Matrieks

Pick n Pay Preller Walk gee só terug aan gemeenskap

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Pick n Pay Preller Walk is weer ’n borg van die Matrikulant van die Jaar-kompetisie. Van links is Riandré Nel, Duncan Pentz, franchise-houer van Pick n Pay Preller Walk, Zelmi Marx en Rianette Kemp.Foto: SISKA MARTIN
Pick n Pay Preller Walk is weer ’n borg van die Matrikulant van die Jaar-kompetisie. Van links is Riandré Nel, Duncan Pentz, franchise-houer van Pick n Pay Preller Walk, Zelmi Marx en Rianette Kemp.Foto: SISKA MARTIN

Met 'n borgskap van R15 000, asook 'n mikrogolfoond en koopbewys vir elk van die 14 finaliste, belê Pick n Pay Preller Walk vanjaar weer in die opvoeding van jong mense deur sy betrokkenheid by die Universiteit van die Vrystaat (UV), Netwerk24 en Volksblad se 41ste Matrikulant van die Jaar-kompetisie.

Duncan Pentz, franchise-houer van Pick n Pay Preller Walk, sê op hierdie manier probeer hy ook terugploeg in die gemeenskap wat hom ondersteun.

Rianette Kemp, verlede jaar 'n prefek aan die Hoërskool Jim Fouché in Bloemfontein, vermoed die feit dat sy kleintyd baie tyd in die hospitaal deurgebring het met klierkoors het bygedra tot haar uiteindelike besluit om medies te studeer. Sy is die eerste een in haar familie wat in dié rigting studeer. Oor die kursus sê sy die feit dat sy doen wat sy nog altyd wou doen, maak dit makliker, en hoewel sy nog nie heeltemal seker is óf en waarin sy gaan spesialiseer nie, oorweeg sy in hierdie vroeë stadium narkose.

Hoewel Zelmi Marx, in 2021 onderhoofmeisie aan die Hoër Meisieskool Oranje, uit 'n familie van onderwysers kom, het sy reeds in gr. 6 besluit sy wil met mense werk en iets doen om hulle te help. "Ek wou 'n kursus volg wat my gaan uitdaag," sê sy oor haar keuse van studierigting. Andersins het dié plaasmeisie van 'n plaas tussen Brandfort en Bultfontein geen spesifieke rede waarom sy medies gekies het nie.

Riandré Nel, verlede jaar die hoofseun van die Hoërskool Bloemfontein, sê hy het laat eers besluit om medies te studeer. "Ek het ingenieurswese en aktuarieel oorweeg, maar medies het aanhoudend na vore gekom. En nou voel dit asof ek my tuiste gevind het. Ek is baie gelukkig met my kursuskeuse." Riandré se kop staan in die rigting van kardio-torakschirurgie.

Goed gebalanseerde matrikulante van oor die land heen kan hulle nou vir die Matrikulant van die Jaar-kompetisie inskryf. Leerlinge wat in akademie presteer, asook betrokke is by kultuur, sport en leierskap aan hul skole, staan die beste kans om in dié kompetisie met pryse ter waarde van duisende rande uit te blink. Gemeenskapsdiens en -betrokkenheid sal ook in aanmerking geneem word.

Die sluitingsdatum vir alle inskrywings is Vrydag 5 Augustus.

Vir inskryfvorms of meer inligting, stuur gerus e-pos na Linda Greyling by greylinl@ufs.ac.za.

Siska Martin

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM