Matrieks

Sinalo woeker met haar skryftalent

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Sy bou 'n nuwe wêreld deur woorde te gebruik, bevry haar gedagtes en maak deure oop vir nuwe wonders. Daarom is dit nie verrassend dat Sinalo Thomas die wenner van Beeld se kreatiewe skryfkompetisie in die kategorie vir Afrikaans eerste addisionele taal (hoërskole) is nie.

Wat haar prestasie so uitsonderlik maak, is dat Afrikaans nie haar huistaal of selfs tweede taal is nie.

Sinalo Thomas
Sinalo Thomas

"My huistaal is Xhosa en my tweede taal is Engels," sê Sinalo. Tog geniet sy dit om skeppend in Afrikaans te wees.

"Om kreatief te skryf, is om 'n pen en 'n papier te neem en sterrestelsels te skep wat gemaak is van metafore en personifikasies. Om te kan skryf, gee my die geleentheid om my jonger self te genees," sê Sinalo.

Tog was dit vir haar steeds 'n groot verrassing om te weet sy het 'n skryfkompetisie gewen, waaraan meer as 1 000 leerlinge van oor die land heen deelgeneem het.

"Dit het soos 'n droom gevoel. Ek kon nie dit glo nie. Ek is oorweldig met vreugde en dankbaarheid."

Sinalo se kreatiwiteit en taalgebruik het die beoordelaars van die kompetisie beïndruk.

Haar wenopstel is "Geboorte van 'n astronomiese sterrekundige figuur - 'n literêre lewensreis". Dit is deur die digter Hans du Plessis se gedig "Tien Haikoes vir die Vredefortkoepel" geïnspireer.

Haar opstel vertel egter 'n donker verhaal van mishandeling.

"Drie winters later is ek sewentien. Ek beleef dieselfde koue en eensaamheid van winter. My hart is nou onvrugbare grond, geen boom van lewe kan nou hier groei nie. Jaar sewentien, 'n haikoe (5 + 7 + 5) het drie reëls. ‘Hy het nie bedoel om my gister te slaan nie', ‘Hy het nie bedoel om my vandag te slaan nie' en steeds môre. As jaar sewentien 'n tekening was, sou dit die vorm van my lipstiffie neem op die grond wat deur sy swaar stewel vergruis word.

"Dalk moes ek altyd sy liefde voel - met 'n groot impak. 5-7-5! My hartklop soos 'n hakkelende tong, 'n bewende hand, 'n deur wat toemaak, soos my pa se voetstappe wegstap en die geluid van sy voetstappe wat in my lewe inkom," skryf sy.

Sy sê om te skryf is vir haar 'n vorm van terapie.

"Ek kry my gedagtes vry van die oorlog in my brein. Dit laat my toe om my trane met metafore af te droog en 'n glimlag te bring deur idiome te gebruik. Ek is 'n legkaart: dit laat my toe om ontbrekende dele van myself te soek en te kry."

Tog skryf sy nie net oor swaar onderwerpe nie.

"Ek vind inspirasie uit alles om my. Ek skryf gewoonlik oor die dinge wat ek gesien het toe ek grootgeword het. "Die pyn waardeur vroue in my familie gegaan het, sodat hulle ook bemagtig voel. Ek dink dit is 'n pragtige vaardigheid om hartseer te neem en dit te omskep in pragtige woorde wat genesing bied.

"My skryfwerk is nie altyd donker nie. God skyn sy lig selfs op die donkerste ster, so ek skryf ook oor gelukkige en mooi dinge soos die reën wat my hart troos."

Hoewel Sinalo hoop om vir die res van haar lewe haar skryftalent te slyp, is dit nie iets wat sy as loopbaan oorweeg nie. "Ek het groot drome om eendag 'n prokureur te wees." Haar visier is op die Universiteit van die Witwatersrand.

Sy het matriek met vyf onderskeidings geslaag aan die Germiston High School en het goeie raad vir ander voornemende kreatiewe skrywers.

"Skryf uit jou hart uit."

  • Sinalo het onderskeidings behaal in Engels huistaal, Afrikaans eerste addisionele taal, lewensoriëntering, ekonomie, lewenswetenskappe.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM