Behalwe vir 'n paar veranderinge is die eksamenrooster vir vanjaar se matrieks baie soortgelyk aan dié van verlede jaar.
Die eindeksamen begin oudergewoonte met praktiese eksamens. 11 731 matrieks sal Dinsdag rekenaartoepassingstegnologie skryf, en 1 000 Woensdag inligtingstegnologie.
Die eerste eksamendag is volgende Maandag, 30 Oktober.
Dié matriekgroep se eerste week sal presies dieselfde lyk as hul voorgangers s'n - dit begin met Engels-vraestelle, daarna ekonomie, Afrikaans, geskiedenis en wiskunde.
Daar is 'n paar veranderinge in die tweede week, met wiskunde se tweede vraestel op die Maandag, ekonomie se tweede vraestel tydens die middagsessie en daarna die tweede vraestel vir geskiedenis.
Die Vrydag van die tweede week en die Maandag van die derde week sal beslis 'n uitdaging bied vir leerlinge wat fisiese wetenskap en besigheidstudies as vakke het.
Al twee dié vakke se eerste en tweede vraestel word op dieselfde dae afgelê tydens die oggend- en middagsessie.
Dié wat rekeningkunde en lewenswetenskappe skryf, sal klippe kou tydens week drie en die begin van week vier, wanneer hulle Engels skryf op Woensdag 15 November, rekeningkunde se vraestel een die Donderdag, lewenswetenskappe se vraestel een die Vrydag en dan weer lewenswetenskappe se tweede vraestel op die daaropvolgende Maandag.
Dan volg twee rusdae vir die meeste Afrikaanse en Engelse leerlinge wanneer tale soos Pedi, Sotho, Zoeloe en Xhosa geskryf word.
Dan volg die tweede Afrikaans-vraestel op 23 November en rekeningkunde se vraestel twee daardie Vrydag. Dit los dan heelwat tyd om hul Afrikaanse en Engelse opstelle af te handel voordat hulle die penne finaal neersit.
Die nasionale uitslae sal op 18 Januarie aangekondig word en die uitslae sal op Vrydag 19 Januarie vir leerlinge by hul skole en aanlyn beskikbaar wees.





















