Matrieks

Sy wil ’n positiewe verskil maak

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Kiara Geldenhuys (18) straal positiwiteit uit en wil dit haar missie in die lewe maak om 'n positiewe invloed op ander se lewe te hê. Sy het verlede jaar met agt onderskeidings aan die Hoërskool Menlopark in Pretoria gematrikuleer.

"Negatiwiteit is aansteeklik en daarom het ek nog altyd probeer om myself te omring met eendersdenkende, positiewe mense wat my opbou. Omdat ek met 'n positiewe gesindheid deur hoërskool is, was ek in staat om dit te sien vir wat dit is: 'n geleentheid om vir oulaas nog 'n kind te wees terwyl jy die geleentheid het om te bou aan jou toekoms. Diegene met 'n negatiewe ingesteldheid het dit net as nog vyf jaar van bloed, sweet en trane gesien. "Hoërskool het my geleer dat as ek iets wil hê, moet ek daarvoor werk en hoewel die lewe moeilik is, is ek nou hier. Ek kan netsowel die beste daarvan maak en dit geniet."

Kiara Geldenhuys Foto: Verskaf
Kiara Geldenhuys Foto: Verskaf

Sy vertel 'n hoogtepunt van verlede jaar was om deel te wees van die skool se revue en haar sang- en danstalent te ontwikkel.

"Dit was ook baie lekker om te sien dat ondanks die sprong van gr. 11 tot matriek my punte dieselfde gebly en selfs verbeter het."

Sy het ook tyd gemaak om pret te hê soos toe sy deel was van 'n span wat die skool se nuwe amfiteater gevier het deur 'n skaalmodel daarvan te bou - uit sponskoek! Tydens die skool se jaarlikse Menlovaria-fees het sy en 'n vriendin die harevleg-kompetisie gewen met 'n baie ingewikkelde gevlegte kapsel.

"Ek dink dis duidelik dat ek aan soveel as moontlik dinge wou deelneem!"

Kiara beplan om vanjaar arbeidsterapie aan die Universiteit van Pretoria te studeer.

"Ek was aan die begin van verlede jaar nog onseker oor wat ek wou doen. Ek het toe 'n beroepsielkundige gaan spreek wat vir my 'n paar opsies gegee het. Arbeidsterapie het net vir my uitgespring."

Kiara sê sy wil spesifiek met gestremde kinders werk wanneer sy gekwalifiseer is.

"Ek hoop om 'n verskil te kan maak sodat hulle vol lewens kan lei. Ek het nog altyd 'n liefde vir kinders, ek is gemaklik rondom hulle en het kindwees self baie geniet. My plan is om van die huis af te studeer, daar is nog baie tyd vir op my eie wees!"

Haar positiewe gesindheid is baie duidelik wanneer sy praat oor hoe haar generasie 'n verskil kan maak aan Suid-Afrika se toekoms.

"Ons het 'n vars uitkyk op die lewe, 'n lus om dinge te verander en met nuwe idees vorendag te kom. Baie van ons droom daarvan om die land te verbeter en ek het geen planne om ooit die land te verlaat nie. Die gras is beslis nie altyd groener aan die ander kant nie."

Karla Janse Van Vuuren

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM